sarie1
Wat mense sê

Uitstalling: Nuwe werke deur Francé Beyers

“The real voyage of discovery lies not in seeking new landscapes but in having new eyes,” Marcel Proust. ‘n Tentoonstelling van skilderye deur Francé Beyers is te sien by die Slee-gallery in Stellenbosch. Met hierdie werke nooi Francé die toeskouer uit om die alledaagse voorwerpe en landskappe wat ons omring met ander oë te bekyk.

‘n Aantal melkbekers – alledaagse gebruiksitems- word op ‘n treffende manier aangebied. Dit daag die kyker uit om iets besondres in die gewone raak te sien. ‘n Enkele suikerpotjie word in drie afsonderlike werke in drie verskillende mediums (onderskeidelik potlood, waterverf en olie), deur die kunstenaar uitgebeeld. Die oefening prikkel die verbeelding en suggereer dat dit wat jy daagliks sien en ervaar, afhang van hoe jy daarna kyk. ‘n Nuwe manier van waarneem mag lei tot ‘n nuwe manier van wees.

‘n Reeks Namibiese landskappe sensitiseer die kyker om opnuut te besef dat elke landskap visueel en emosioneel sy eie verhaal vertel. Die verhaal hang weereens af van hoe jy daarna kyk.

Francé Beyers is gebore op Worcester in 1964. Sy studeer Grafiese Kuns aan die Universiteit van Stellenbosch en volg daarna n loopbaan in die advertensiewese, media, en bemarking. In 2004 tree sy uit en spits haar toe op haar skilderkuns. Na ‘n aantal gesamentlike uitstallings, bied Francé in September 2010 haar eerste solo-uitstalling aan. Die opkomende Oktober-uitstalling is ‘n gulde geleentheid om werke van hierdie ontluikende kunstenaar te besigtig.

Francé BeyersFrancé Beyers