sr1005myselfanna33
Wen

Kuier by Anna Davel op Philadelphia – spesiale aanbod vir sarie.com-gebruikers

Die groot peperboom wat wye skadu’s gooi, is die bymekaarkomplek op die dorp. Dis buitekant The Peppertree Coffee Shop, Philadelphia se enigste koffieplek.

As jy die blare van dié boom kneus, ruik jy pure witpeper. In die stofstraat loop ‘n gemmerkat, en gesiggies, petunias en krismisrose blom vrolik.

Philadelphia is maar 30 minute se ry van Kaapstad af, naby Malmesbury. As jy nie oppas nie, ry jy sommer deur. Die groot, imposante wit kerk, wat lyk soos dié op Karoo-dorpe, laat jou darem besef: Hier ís dorp, draai af!

Anna Davel, die bekroonde sangeres met die sigeuner-voorkoms, het onlangs hier huis opgesit en pendel nou tussen Pretoria, haar permanente woonplek, en Philadelphia. Sy lyk soos een van die Godinne op die grondpad, haar derde album waarvoor sy in 2006 die Sama-toekenning gekry het vir beste Afrikaanse kontemporêre album. In haar afgesnyde denimbroek en spaghetti-bandjie-bloes, met haar donker krulhare sorgeloos teruggevat en groot oorringe, lyk sy eksoties-aards.

Philadelphia is haar “versteekte juweel”.

“Min mense weet van die dorp, maar ek is mál oor die rustigheid. Veral as ‘n mens so gewoond is aan die stad se gewoel. Twaalf jaar gelede, toe ek nog ‘n lid was van die a cappella-groep Cutt Glas, het ek hier by die teater-restaurant Die Meul, wat onlangs De Malle Meul herdoop is, by vriende se huweliksherdenking opgetree. Ek het tóé verlief geraak op die dorp.”

Oral groet mense Anna op haar naam, want jare al kom sy by elke moontlike geleentheid hierheen terug om asem te skep.

“Alles op Philadelphia voel half surrealisties. Die bruide loop in die stofstrate in hul ragfyn chiffonrokke van die kerk na De Malle Meul en die strooimeisies se wasige pienk rokke waai in die wind. Dis movie moments.”

In De Malle Meul, waar Anna en ander kunstenaars een keer per maand optree, ruik dit na geoliede hout. Dit was eens die skilder Pieter van der Westhuizen, wat verlede jaar oorlede is, se galery en stal steeds amptelik sy werke uit. Wanneer die koffie kom, sê Anna, tipies boeremeisie: “Nou kort ons nog nét beskuit.”

*Anna Davel vertel meer oor haar hartsplek in die Junie-uitgawe van SARIE. Lees nog in jou nuwe SARIE!

Spesiale aanbod vir sarie.com-gebruikers

Eerskomende Saterdagaand (12 Junie) tree Marion Holm by De Malle Meul op met haar nuwe vertoning, Met die Holm gebore.

Bespreek nou jou kaartjies en jy staan ‘n kans om ‘n naweek op Philadelphia te wen!

Tel. 0726687901 of stuur ‘n e-pos na info@demallemeul.co.za

 

  • http://idqawazinlpu.com/ xbaxpfcse

    njixK5 ptquwmffhyyj, [url=http://nqbrkyarsafd.com/]nqbrkyarsafd[/url], [link=http://bvwfxcnogcbw.com/]bvwfxcnogcbw[/link], http://pjmhsjgojmzd.com/