die_leos_poster01
Wen

WEN dubbelkaartjies vir Die Leo’s met Sandra Prinsloo

Kom kyk saam na Die Leo’s met Sandra Prinsloo, Tobie Cronjé, Jacques Theron, Erica Wessels, Gideon Lombard en Petro van den Heever.

Wat’s die storie?

Hulle is aaklige mense, die Leo’s. Vandat daai korrelkop Ben op sy sterfbed lê dink hy blykbaar hy kan sê net wat hy wil en nou kom 40 jaar se frustrasie tot uiting.  En Rita sit dag na dag en lees net tuisversieringstydskrifte, sy wil mos die leefkamer oordoen voordat die arme man nog die tydelike met die ewige verwissel het – ek koes maar vir daai vrou, sy kan jou al glimlaggend sleg sê dat die see jou nie kan afwas nie.  En wat aangaan met daai Koert weet ek nie, mens sien hom skaars, ek hoor hy’t ‘n nuwe kêrel maar hy hou die so ver van sy gekkespul van ‘n familie weg as wat hy kan.  En Lisa het mos nou al so lank op hou drink – die AA doen darem maar wonderlike bwerk – maar sy stress weer so R50 sê sy gaan nie die dag kan maak voor sy na ‘n ‘versterkingtjie’ gryp nie.  En wie’s die mooi jong man wat saam met Koert in daardie leë woonstel gesien is?  Ek wonder maar net.  Maar die hospitaal kyk blykbaar baie mooi na Ben, veral daardie rooikop verpleegster, sy’t seker maar hare op die tande. 

Ja, hulle is aaklige mense, die Leo’s, glad nie soos ons gelukkige, perfekte gesinnetjie nie.

Sandra Prinsloo, Tobie Cronjé en Erica Wessels

Sandra en Tobie: Deel verhoog weer na byna 40 jaar.

Vir die eerste keer sedert die laat 1970’s deel twee van die mees ikoniese akteurs in Afrikaans die verhoog: Sandra Prinsloo en Tobie Cronjé staan aan die hoof van Die Leo’s as die ma en pa wat mens niemand toewens nie. Jacques Theron (Lot, Babbel) speel hulle seun Koert, ma Rita se goue seun en die balk in pa Ben se oog.  Fleur du Cap-wenner Erica Wessels (‘n Seder val in Waterkloof, Die vrou van tevore) maak ‘n maaltyd van Lisa, wat op die harde manier geleer het dat al manier wat sy ooit aandag gaan kry, is as sy soveel drama gooi as moontlik. Gideon Lombard (…miskien, Nagwond, Bidsprinkaan) is Brian, die sexy jong eiendomsagent wat sy bes doen om ‘n smerige woonstel aan Koert af te smeer en Petro van den Heever (Ysterasters, Taraboemdery, Seuns) is die verpleegster wat met die mense se drama opgeskeep moet sit.

Sandra Prinsloo en Tobie Cronjé

Die musiek is spesiaal vir die produksie geskep deur die fenomenale jong Louwtjie Rothman. Die kostuums en vervaardiging is die werk van Pedro Kruger.

Die vertaling en regie is die werk van die veelbekroonde regisseur Hennie van Greunen, bekend vir baie suksesvolle vertalings soos Shirley Valentyn, Dinsdae by Morrie, god van chaos, en Die monster in die gang.  The Sewing Machine, sy vertaling van Rachelle Greeff se bekroonde Die Naaimasjien was ‘n groot treffer by die 2012 Edinburgh Festival Fringe.

Die oorspronklike teks

Nicky Silver se bekroonde teks, The Lyons, was die groot treffer van die Cort Theatre se 2012 Broadway seisoen en Wordsmith’s is die eerste teatermaatskappy om die internasionale regte te bekom en ‘n vertaalde weergawe op die planke te sit.  En dit met so ‘n droom-rolverdeling.

Die Leo’s is ‘n ko-produksie tussen die ABSA KKNK, Clover Aardklop en die Vryfees in Bloemfontein.  Dit was die enigste vertoning om heeltemal uit te verkoop in die ABSA KKNK se vlagskip teatervenue en het vertoning na vertoning vir staande ovasies gespeel.

Nou het Wordsmith’s Theatre Factory besluit om hierdie fenomenale produksie Kaap toe te bring, na die Bellville Burgersentrum, wat sedert die 1950’s een van die Kaap se premier teaters is.  Die teater word egter deesdae meer gebruik vir seminare en matriekafskeid modeparades en dit is iets wat Hennie en Pedro wil sien verander: hierdie beeldskone teater moet weer die tuiste word van uitstekende professionele teater en Die Leo’s se speelvak is ‘n stappie in daardie rigting. 

Die Leo’s speel vanaf 9 – 17 Mei, elke aand om 19:30 en met ‘n 15:00 middagvertoning op Sondag, 12 Mei. Bespreek nou by Computicket.

ONTHOU: Jy moet self by die Bellville Burgersentrum in die Kaap kom. SARIE is nie verantwoordelik vir vervoer of verblyf nie.