janneman_poster_final_resized
Wen

WEN een van 5 dubbelkaartjies na Janneman-toneelstuk

Karien is in haar 60’s en na haar man se beroerte voel sy so half, jikkerig, sy weet nie wat gaan aan nie, maar dit werk vreeslik op haar senuwees. Lorraine, haar dogter, weet dat die 40’s veronderstel om ‘n nuwe begin te wees, maar hoekom voel sy dan so alleen en doelloos? En Ané is naar en mislik na haar laaste partytjie-sessie, maar dis mos waarvoor mens se 20’s daar is? Hierdie droom-rolverdeling vat ons saam op reis deur die lewens van die drie vrouens wat elk besig is om ‘n krisisjaar te trotseer.  Van besoeke by sielkundiges, pre-natale spesialiste en volwasse speelgoed-winkels tot by die lekker van harige mans, salsa klasse, Parys, begrafnisse en geboortes. 

Die teks het die 2009 Carol Tambor-prys by die Edinburgh Festival gewen en die Ierse produksie toer tans die wêreld vol en speel vir uitgepakte sale en staande ovasies. Internasionaal is ‘n hele paar produksies tans in repetisie en die Afrikaanse weergawe is die eerste vertaalde weergawe van Elaine Murphy se wit-warm Ierse teks.

En om die drie vrouens vlees te maak, kan mens nie vra vir ‘n beter rolverdeling nie: die legendariese Sandra Prinsloo herenig met haar Die Naaimasjien regisseur, Franci Swanepoel (Binnelander/Junkiedrome/Siener in die Suburbs) vier haar terugkeer na die verhoog en Hannah Borthwick (2010 Fleur du Cap-wenner as Beste Student) maak haar professionele debuut.

Sit hierdie drie akteurs en die teks in die hande van bekroonde teatermaker Hennie van Greunen en die produksie beloof om een van 2011 se teater-juwele te wees.

Dié mense wat Magdaleen (Die Naaimasjien) en Shirley (Shirley Valentyn) met deernis onthou, gaan presies weet waar Karien, Lorraine en Ané se harte lê: daar waar die swaar en die lekker, die giggel en die snak, die liefde en die leed mekaar afwissel en sodoende van elke mens se lewe ‘n epiese reis maak.

Janneman was die top dramaverkoper op die 2011 ABSA KKNK, die Vryfees en die Clover Aardklopfees. * Wenner van die ‘Publiek se Keuse’-toekenning by die 2011 Clover Aardklopfees.

Teks deur Elaine Murphy
Vertaling/verwerking/regie deur Hennie van Greunen

Jy kan een van 5 dubbelkaartjies vir die vertoning op 10 Mei 2012 by Kunstekaap in Kaapstad wen.