MOOD GS wekker oggend slaap Getting Up At Seven In The Morning
Dekorstories

4 van die vuilste plekke wat jy dalk nooit skoonmaak nie

Vuilheid en kieme kruip baie keer op plekke weg waar jy dit die minste verwag.

Hier is 4 van die vuilste plekke wat jy maklik vergeet om skoon te maak.

Skottelgoedwas-sponsie

Jy gebruik dit om skoon te maak, maar die klam oppervlak en gaatjies van ’n spons is die perfekte teelaarde vir bakterieë soos E. coli, salmonella en stafilokokkus, berig SheKnows.com.

Gewone seep en water is nie voldoende om dié bakterieë dood te maak nie. SheKnows.com beveel 2 maniere aan om jou spons skoon te kry.

1) Mikrogolfoond Sit ’n nat spons in die mikrogolf op hoog vir 2 minute. Kyk dat die spons nie uitdroog en vlamvat nie. Pasop, die spons is warm as jy dit uithaal.

2) Skottelgoedwasser Sit die spons vir ’n volle siklus in jou skottelgoedwasser. Maak seker dit is in jou eetgerei-houer, want as dit los lê kan dit aan die onderkant van die wasser beland.

Kussings

Nie net die slope nie, maar ook die binnekant van die kussings huisves allerhande swamme wat allergieë kan veroorsaak, volgens Greatist.com.

Die oplossing: trek gereeld skoon beddegoed oor en kry anti-allergeenslope om bo-oor jou kussings te trek. Jou gewone kussingslope kom dan bo-oor dié sloop.

Lees op die kussing se etiket of en hoe jy dit kan was. Apartmenttherapy.com sê as jou sintetiese kussing nie terugspring ná jy dit in die helfte gevou het nie, is dit tyd om dit weg te gooi.

Nóg wenke Lê jou kussing horisontaal om droog te word, as jy dit kan tuimeldroog, gooi dit saam met tennisballe in sodat die materiaal nie klonte vorm nie. Gebruik eerder ’n vloeistof as seeppoeier. Jy kan dit maar twee maal deur die spoelsiklus sit ná dit gewas is om seker te maak al die seep is verwyder, beveel Apartmenttherapy.com aan.

Badmatjie

Moenie onderskat hoe vuil die badkamervloer is nie! En sit jy dan ’n klam matjie daarop, kan jy jou gereedmaak vir bakterieë en swamme, sê Greatist.com.

Was jou matjie in warm water en bleikmiddel (as dit volgens die etiket toegelaat word) – en moet dit nie saam met klere, kombuislappies of beddegoed was nie!

Grimering

Omdat jy jou grimeerborsels elke dag op jou vel gebruik, kan dit vinnig vuil word. Dis daarom belangrik dat jy dit een keer ’n week was.

MOOD GETTY skoonheid grimering borsel poeier

FOTO: Getty / Gallo Images

Jy benodig:

  • ’n Klein houer waarin jou grimeerborsels kan staan (soos ’n glas, koppie, beker of selfs ’n plastiekkoppie).
  • Babasjampoe
  • Warm water

Kyk HIER na stap-vir-stap-foto’s hoe om jou borsels te was én ’n slim manier om dit droog te maak.

Bronne: SheKnows.comGreatist.comApartmenttherapy.com,