Dekorstories

FOTO’S: Andriëtte Norman het nou ’n dekorreeks en só gaan dit met manlief

Die Afrikaanse sangeres Andriëtte Norman is ’n vrou van vele talente. Nie net het haar splinternuwe album, Pêrel vir ’n kroon, byna goue status bereik nie, sy het ook pas ’n dekorreeks bekend gestel.

Andriëtte is 4 maande gelede met Glynn getroud en hulle is dolgelukkig. “Ek is in my element! Die lekkerste deel van getroud-wees is om rustig te voel en te weet hierdie is my lewensmaat saam met wie ek die lewe kan aanpak.”

“Die idee van die dekor-reeks het ontstaan by ’n vroueoggend toe Cornel Botha en Desire Venter my gevra het of ek die ambassadeur vir Soya Dekor wil wees. Kort daarna het die plan gevolg dat ons my lirieke op produkte soos kussings, voorskote en kaasborde druk.”

Andriëtte sê sy het nog altyd belanggestel in binnehuisversiering. “Ek is mal daaroor om my eie huis mooi te maak en mense komplimenteer my gereeld daaroor. Toe Soya my vra, was ek dus meer as gewillig om betrokke te raak. Dit is alles hul eie produkte en my lirieke word daarop gedruk. Hulle het sulke oulike voorstelle en ek dink dis ’n lekker vars idee om dekor saam met my CD’s te verkoop.”

Andriëtte en die Soya-span het reeds planne om die reeks uit te brei. “Ons dink daaraan om in die toekoms ’n kinderreeks en ’n hele paar ander produkte soos tydskrifhouers te maak. Dit is vir my heerlik om op dié manier kreatief te wees. Ek toer baie met die nuwe album en is so 2 – 3 dae per week weg van die huis af. Dan het ek hope tyd om planne te beraam, en dit bied heerlike afleiding en stimulasie.” Dit is ook ideaal vir wanneer sy met ’n gesin wil begin en nie meer so baie kan reis nie.

Koop HIER die Soya-produkte

Lees ook