FOTO Keiko Oikawa

FOTO Keiko Oikawa

Dekorstories

Brei ’n trendy flamink-kussing

Borduur die flamink op die oortreksel nadat jy dit gebrei het.

Grootte: Breedte 40 cm Lengte 40 cm

Benodighede

African Expressions: Harmony (100% merino-wol): 3 x 50 g-bolle in grys (2057), 1 x 50 g-bol in pienk (2281) en oorskiet-breidraad in wit en in swart; 5 mm-breipenne; 3 knope van 3,5 cm in deursnee; 40 x 40 cm-vulkussing; stomppunt-naald

Spanning

18 ste en 23 rye in ks met 5 mm-breipenne = 10 cm

Let wel Die kussingoortreksel word in koussteek gebrei met ’n riffelstrookrand aan rande van opening aan agterkant. Wanneer die oortreksel klaar gebrei is, word die flamink in Switserse deurstopwerk borduur.

BREI SO

Kussingoortreksel

H/aan 72 ste met grys. Beg met enkelrif soos volg: 1e rif-ry: *R 1, aw 1, her van * tot einde. Her laaste ry nog 8 keer. (Altesaam 9 rif-rye is gebrei.) Beg in ks brei soos volg: 1e ry: (RK) R. 2e ry: Aw. Her laaste 2 rye tot werk 80 cm van aanhegrand is, eindig met ’n aw ry (VK). Vlg ry: (RK) *R 1, aw 1, her van * tot einde. Brei nog 3 rye in enkelrif soos ste ingedeel is, eindig met ’n VK-ry.

Knoopsgate

Hou die rifpat korrek vol en maak knoopsgate oor vlg 2 rye soos volg: 1e knoopsgatry: (RK) Rif 15 ste, h/af vlg 4 ste, *brei in rif tot daar 15 ste op regterpen is ná laaste afhegting, h/af vlg 4 ste, her van * nog een keer, rif tot einde. 2e knoopsgatry: Hou rifpat korrek vol, *rif 15 ste, draai werk, h/aan 4 ste op die linkerpen, draai werk, her van * nog twee keer, rif tot einde. Brei nog 3 rye in rif. H/af.

Blok die kussingoortreksel só

Plaas oortreksel plat neer op ’n sagte oppervlak met ’n handdoek onder. Speld rande rondom gelyk. Plaas ’n klam doek bo-oor. Laat droog word. Wanneer droog, draai dit met regte kant na buite om vulkussing sodat die riffelrande oorvleuel. Speld die gevoude sykante lossies vas om ’n vierkant te vorm en merk waar jy moet toewerk.

 Borduur die flaminkmotief só

Merk die middel van die kussing se voorkant voordat jy met die kleurdiagram begin. Die volledige diagram is 24 ste breed en 55 ste hoog. Elke blokkie in die diagram verteenwoordig ’n steek van die breiwerk. Die flamink word borduur met pienk, wit en swart, volgens diagram. Om Switserse deurstopwerk te doen, neem breidraad en stomppunt-naald. Bring die breidraad uit van agter na voor deur die breiwerk, aan die onderkant van die steek wat bedek moet word (1). Steek die naald in by die bopunt van die gebreide steek van regs na links onder die twee “beentjies” van die gebreide steek daarbo deur (2). Steek die naald weer in by die basis van die steek wat bedek word (3) om die eerste steek van die Switserse deurstopwerk te voltooi. Gaan so voort om steke in die ry op dieselfde wyse te bedek – werk oor die ry van links na regs (4).

Afwerking

Werk knope aan. Vou oortreksel vierkantig met opening agter wat oorvleuel en werk synate toe. Plaas vulkussing binne.

Bron: Knitting Smitten

Lees nou

’n Plan met ’n ottoman

Kiskenades

Speel met spieëls