screen_shot_2013_05_15_at_12.54.53_pm
Dekorstories

Hertex se eg Suid-Afrikaanse reeks

Die idee vir die nuwe materiaal-reeks het begin toe Coba Herrmann, vrou van die Hertex-eienaar, Peter Herrmann ‘n delikate protea geskets het. Dít het hulle geïnspireer om Suid-Afrikaanse patrone te skep!

Hulle het vir die bekende Suid-Afrikaanse skrywer-digter Riana Scheepers gevra ’n gedig te skryf ter viering van ons pragtige land.

Hierdie land van my

FOTO: Riana Scheepers en Coba Herrmann

Die resultaat is “Hierdie land van my” – ‘n versameling wat in Suid-Afrika gekonseptualiseer en vervaardig is. Dit beeld ons bekende protea uit, saam met die woorde van ’n nostalgiese Afrikaanse gedig asook ’n strand-streep.

Die ontwerpe het ’n verbleikte, ouwêreldse gevoel. Dit is beskikbaar in ’n sagte grys, ’n hemelblou sowel as die tradisionele proteakleure, saam met ’n knalrooi ondersteunende anker.

Ná 20 jaar van keramiek-beeldhouwerk (en die eerste prys in ’n Absa- beeldhouwedstryd) het Coba  twee jaar gelede botaniese tuine begin skets.

Hierdie land van my

Ek vind inspirasie in lyne, in die natuurlike vorms van wolke, berge, duine en ander kurwes, en die anatomie van mense en diere.

Vir dié reeks het ek my inspirasie geput uit ons inheemse plante en blomme, veral die helder kleure en geometriese vorms van plante soos die aalwyn en strelitzia. As ’n kunstenaar glo Coba Suid-Afrikaners is nou meer as ooit vantevore bewus van hul spesifieke styl. “Dis goed om te sien dat ons vier wat uniek aan ons is.”

Riana Scheepers sê sy word maklik geïnspireer – deur mense, deur gebeurtenisse, “maar veral deur dié uitsonderlike, pragtige land onder die sterre”. “Ek haal inspirasie uit die diversiteit van die natuur, mense en kulture in een land. Nêrens anders ter wêreld kry ’n mens so ’n verskeidenheid van landskappe, soveel mense, soveel kulture nie. Ons moet dit koester en waardeer. Ons sal nooit verveeld wees nie – dis ’n bron van inspirasie vir enige kunstenaar.”

Toe sy “Hierdie land van my” geskryf het, het sy toegelaat dat haar hart die pas aangee. “Dis hoe ek oor my land voel,” sê sy. “Wanneer mense met die materiaal werk, sou ek graag wou hê dat hulle herinner word aan die natuurskoon van ons land, die verskeidenheid van die landskappe, die fauna en die flora.”

Al die ontwerpe het ’n swaar linne/katoen-basis en ons het elegante en getekstureerde effekleurige materiale by die versameling gevoeg om koördinering te vergemaklik.

“Hierdie land van my” is beskikbaar by Hertex Fabrics.

Hierdie land van my

- Riana Scheepers -

Hierdie land van my
land van Suidersterre en son
is my hartklop, my asem, my bloed

Dit is die stof wat ek opskop die afdruk van my spoor

Dit is ’n berg met ’n duiwelse piek ’n disa bloedrooi in sy kloof

Dit is ’n see so groot soos genade ’n dolfyn se sprong in die sproei

Dit is Namakwaland in lentetyd woestynblomme dansend in die wind

Dit is ’n Kalahariduin teen skemeraand gemsbokspiese teen die lug

Dit is ’n steenboklam in die ruigte sy lyf ’n rietjie wat tril

Dit is ’n jagluiperd se soepel swenk glimmende koperkole in sy oë

Dit is Moordenaarskaroo en Soetveld Botterkloof, Tankwa en die Hantam

Dit is land en lug en Melkweg kareehoutstompe in die vuur

Hierdie land van my
land van Suidersterre en son
is my bloed, my liefde, my lewe