sr1012bosvelddekor_6_web
Dekorstories

Kaapstad se juweel

In die hart van Kaapstad is daar die mooiste terrein waar jy in die natuur kan oorbly en op staproetes kan gaan. Dit is reg langs die woonbuurt Oranjezicht. Hoerikwaggo beteken ‘berge in die see’. Die nuwe oorslaap- en konferensiegeriewe is met klip uit die omgewing gebou en dis reg langs die oorspronklike washuisies. In die jaar toet het die slawe die wasgoed hier gewas en dan al die pad na die Kasteel in Kaapstad teruggeem.

As jy by die hek indraai, sal jy nie glo dat die stadsgewoel net ’n klipgooi ver is nie. Die oorslaap-eenhede is kleurvol ingerig met kraakvars beddegoed en elkeen het sy eie ruim badkamer. Daar is konferensiegeriewe en ’n heerlike braai-area met hangmatte in reuse-bome. Hier kan jy rustig lê en luister hoe ’n riviertjie langs die klipmuur kabbel. As jy nie lus is vir ’n staproete nie, kan jy net hier onder die bome sit en lees en slaap. En dalk later ’n vleisie braai.

Lees meer oor die wondermooi van Tafelberg Nasionale Park, die Hoerikwaggo Washuisies en die verskeie staproetes by www.tmnp.co.za en www.hoerikwaggotrail.co.za.