Dekorstories

Pure plaashuis

Kuier jy op die plaas Johannesdal aan die voet van Simonsberg, is dit soos om in ’n sprokie in te stap. Die vertrekke is ruim; die dekor interessant. En dan is daar saam met die blou berge ’n rivier en ’n populierbos …

SARIE se dekor-redakteurs Anita Rossouw en Lounette Fourie het by dié plaashuis gaan kuier vir SARIE se Junie 2015-uitgawe. Blaai deur die galery vir foto’s van dié spoghuis én maklike wenke vir om jóú huis hierdie voorkoms te gee.

Alle foto’s: Henk Hattingh

KREATIEWE LANDSKAP

Hiermee is Chris en Dané meesterlik. Jy verkyk jou aan alles wat hulle bymekaarsit. Die portaal huisves ’n tafel vol interessanthede: ’n glasboks met ’n reuse-plastiekgogga, ’n blokfluit en speelgoedgeweer. Die lampskerm is van stokkies en melkerige papier. Op die vloer staan geraamde geperste blare en blomme.
ONTHOU: as jy blare pers, moet jy dit eers deeglik drooogklad.

JY’S WELKOM!

Die ingang na die huis is hierdie dubbelvolume-houtstruktuur met genoeg pakplek vir kaggelhout en ’n lang watertrog waar hul honde, Lucky (op foto), Sebastian en Leila, kan water drink. Die voordeur is ’n dubbele glasdeur in ’n staalraam.
WENK:Gepakte kaggelhout gee enige ruimte 'n warm atmosfeer.

Die moderne plaashuis van buite, met Stellenbosch se bekende Simonsberg op die agtergrond.

PLEK VIR VERSAMELGOED

In die hoek van die voorportaal staan hierdie ou stoel met strooihoede daarop gestapel, ’n soort aweregse kapstok. Op ’n geskropte ronde ou tafelblad het hulle ’n haaskop uit gips gemonteer en om sy nek ’n papierkransie en fyn liggies gehang.
WENK: Gebruik 'n groot kaasbord of houtskyf (by kwekerye) pleks van die tafelblad.

BLOMME EN TAPISSERIEË IN DIE SITKAMER B

Bedrukte materiaal is vir die banke se leunings gebruik en effekleurige stoffeersel vir die sitgedeeltes. Die kussings is oorgetrek met ’n kombinasie van tapisserie en bedrukte fluweel (van Bbellamy & Bbellamy).
’n Verskeidenheid koffietafels, waarvan een selfs met tapisserie oorgetrek is (Dané se handewerk), staan op ’n geborduurde mat wat hulle in Turkye gekoop het.
Die sitkamer, eetkamer en kombuis vloei ineen. Om die volume van die vertrekke te aksentueer het hulle die skilderye laag en in lyn met die diep vuurherd gehang (die vuurherd is net links van die skilderye, maar nie op die foto te sien nie).
WENK: Kies jou gunsteling-tema, soos blomme, en weef losweg deur die huis - op kussings, matte, skilderye, ou prente en as rangskikkings.

Oral in die huis is ou skilderye van blomme, gekombineer met ’n verskeidenheid plante en orgideë, soos hier in die opwasvertrek.

Een van vele stillewes in die huis.

’N KOMBUIS EN EETKAMER RYK AAN ATMOSFEER

Die groot mahoniehoutkas is pakplek vir allerlei breekgoed. ’n Stofie met skoorsteen na die boonste verdieping hou die groot leefruimte in die winter warm. Die kombuis is so goed met die interieur vervloei dat jy dit aanvanklik nie raaksien nie. Die groot outydse stoof en ’n klein voorbereidingswasbak is al wat verklap dat hier lank en gesellig gekuier word. ’n Smal hoë tafel dien
as werkoppervlak en skei die kombuis van die eetkamer. Al die blomme is uit hul plaastuin. En Leeu, die kat op die tafel, hou ons fyn dop ...

ONTSPANNE STOEP-KUIERS

Die sit-eetkamer lei uit op hierdie diep stoep met gemaklike stoele en ’n rusbank. Daar is ook ’n vuurherd en etenstafel aan die teenoorgestelde muur (nie op foto te sien nie). Die rankplant baan sy weg deur die blou Delftse borde op die rak, en die vinkneste lei jou oog na die begroeide plafon.
Hangligte met skerms van dik glas hang oral deur die huis, selfs op die stoep.
WENK: As jy 'n stoep aanbou, maak dit ekstra diep sodat jy heeljaar buite kan kuier.
INSPIRASIE: Plante wat teen mure rank en van plafonne hang, soos dié Bostonse klimop, is nou groot in die dekorwêreld.

DIE TWEELING- BADKAMER

Die badkamer het twee storte en twee wasbakke, wat dit prakties sowel as mooi maak.

STOEP-BOEKE

Op die boonste vlak is net so ’n lekker diep stoep met dié mooi boekrak.

Chris se studeerkamer, wat op op die boonste stoep uitloop.

Die plaas Johannesdal behoort aan Chris Willemse en Dané Erwee. Albei is talentvolle mense wat min bekendstelling nodig het as die eienaars van Okasie* – befaamd vir hul mooi blomme vir troues en korporatiewe onthale. Die twee het eers op Stellenbosch self gewoon, maar vanweë hul passie vir blomme, plante en die aarde het hulle ses jaar gelede dié plaas buite die dorp aan die voet van Simonsberg gekoop.

Die argitek Henri Comrie het die huis ontwerp en Chris sê sy eerste reaksie was dat dit te modern is. Vir hulle was die uitdaging om die interieur pure plaas te laat lyk – iets wat hulle perfek reggekry het.

Die hemelhoë plafonne van die huis met sy yslike staalraamvensters laat
lig instroom en gee ’n onbeperkte uitsig op die lieflike omgewing. Die sak-afgewerkte (bagged) mure is wit gekalk, die vloere is van sandsteen en die plafonne rou beton. Die tuin is ’n kombinasie van ’n ongetemde landskap en ’n formele tuin met ’n swembad, wat soomloos met die tuin ineenvloei.

*Okasie 021 887 9904, www.okasie.co.za