Dekorstories

Sorteer só jou huis kamer vir kamer uit

Die koskas is vol ou produkte, die koeverte lê opgestapel op jou deurmekaar lessenaar en jou klerekas kan skaars toe. Dis nie die manier om ’n nuwe week te begin nie.

Begin by jou voorportaal en werk die hele huis stelselmatig deur – een kamer op ’n slag. Met dié wenke sal dit vinniger gaan as wat jy dink!

Begin solank met dié drie vertrekke of ruimtes in jou huis. Volgende week deel ons wenke vir nóg drie vertrekke.

(Blaai deur die galery)

Ingangsportaal

Dis die eerste ding wat besoekers sien, maar dis ook gewoonlik die plek waar jy vinnig iets neergooi ná ’n besige dag.

• Kyk eers wat alles rondlê voordat jy begin opruim. Dan weet jy watter bêreplek jy benodig. Dis gewoonlik plek vir jou sleutels, pos, selfoon, handsak en soms skoene.

• Nou kan jy pakplek skep – ’n mooi bakkie vir sleutels en jou foon. Mandjies is nuttig vir pos of sommer om jou hond se leiband in te gooi vir wanneer julle gaan stap.

• Haakplek werk ook goed vir byvoorbeeld handsakke of reënjasse.

FOTO Inge Prins

Badkamer

Bêreplek in die badkamer is gewoonlik beperk, so hou net items wat jy baie gebruik byderhand en pak die res, soos byvoorbeeld ekstra rolle toiletpapier, in die gangkas (as jy een het!).

• Haal eers alles uit jou badkamerkassies en dun dit uit voordat jy net die nodigste terugpak. As iets verval het (veral medisyne), gooi dit dadelik weg.

• Sorteer produkte volgens gebruik: daagliks, weekliks, of min.

• Klein houers binne kaste of laaie is perfek om toiletware en grimering in te hou.

• Muurhake kan lekker werk vir handdoeke en kamerjasse.

FOTO Bathroom Bizarre

Jou slaapkamer

Reël nommer een: Maak elke dag jou bed op. Dit laat jou dadelik meer in beheer voel van die dag wat kom.

• Haal alles van jou bedkassie af, vee dit skoon en begin van voor. Sit net items daarop neer wat jy saans gebruik: jou bril, die boek wat jy lees, handeroom, lipsalf en dies meer.

• Kies dan een of twee ornamente om op die kassie te sit.

• Kry lekker snoesige beddegoed en maak jou bed op asof jy in ’n hotel is. Wat is nou lekkerder as om ná ’n lang dag in ’n luukse bed te lê?!

FOTO Weylandts

Bronne: My Domaine, Budget Dumpster, SARIE-dekorredakteurs, Apartment Therapy

Lees nou

Dekor – die moets en moenies

Dekor-trend: Marmer

7 goeie Nuwejaarsvoornemens vir 2017