imgp0915
Julle hoekies

Bertha-Jane Annandale

My nostalgiese hartskombuis, is jarelange se bymekaarmaak, van erfgoed, snuffelgoed, pasella goed en selfmaakgoed.

Erfgoed is die nostalgiese kombuiskassies uit ouma Bertha se huis. Die kassie met die lang glasdeure het Ouma haar ingelegte vrugtebottels met die mooiste kleure vrugte van watertand lekker geelperskes tot die soetste kweperkonfyt gebêre. Sondae mag ek as klein dogtertjie die kassie onder oopmaak en baie versigtig ‘n bottel ingelegte vrugte etenstafel toe dra waarna dit met groot sorg oopgemaak en voorgesit is deur Ouma.

Snuffelgoed kom vanuit die uithoeke van ons mooie land. Padlangs het ek oor die jare gesnuffel en nogmaals gesnuffel tot my kinders se ergenis, want kan Ma nie verstaan ons wil net asseblief vakansie hou nie!!!

Pasellagoed word oor jare heen deur kleintyd-vriende aangedra, want daar sal wel ‘n spesiale plekkie wees vir alles!!! en nog wat! Want hulle weet hulle weggooi goed kry hul hang of staan in my hartskombuis!

Die dakkie van my kombuis was gemaak deur manlief Jan, wat my denke en drome met sy hande kon vervolmaak!

So baie herinneringe is elke dag deel van my lewe. Die bottels op die kombuiskassie waarin Ouma kindertyd gemmerbier vir kersfees op die koel stoep staangemaak het… so kan ek alles, maar alles in my kombuis heg aan een of ander herinnering. Ja, alles vertel ‘n storie te veel vir 400 woorde!!!

Kom kuier om my kombuistafel uit vervloë se dae. DAN gaan ons gesels!!!

Tot dan.

Groetnis

Bertha-Jane Annandale

Sien ander hoekies/vertrekke