Maak dit self

Bêre jou geheime

OOSTERSE MISTIEK (foto regs)
Het jy ’n kas of meubelstuk waaroor jy sentimenteel is, maar jy wil dit mooier maak? Verf dit dan – en die kleur wat jy binne-in verf is jou geheim. Só ’n meubelstuk word nie net die fokuspunt van jou vertek nie, maar verleen ook ’n bietjie Oosterse mistiek.
Benodigdhede
’n Ou kas; skuurpapier; Plascon Velvaglo in rooi (kl. Warhol B5-7) en groen (kl. Inch WormA18-4).
Maak só
Verwyder alle deur- en laaiknoppe. Skuur die kas binne en buite om die ergste vernis te verwyder. Verf eers die groen kleur binne en laat droog word. Verf daarna die buitekant met twee of drie lae rooi. Skroef nuwe knoppe aan.

MEER AS NET PAPIER

In ’n mooi stukkie papier skuil ’n verborge boksie. Dra ’n mooi geheim hierin oor.
Benodigdhede
Stewige geskenkpapier; snymessie, liniaal; gaatjiedrukker.
Maak só
Teken ’n vierkant van 7 cm in die middel van vel papier (= bodem van boksie). Teken ’n rand reg rondom van 7 cm breed (jy het dus nou ’n vierkant van 21 cm). Merk middel van elke 21 cm-syrand en verbind dit met hoeke van klein blokkie. Knip op stippellyne. Vou driehoekflappe na bo en pons ’n gaatjie in elke punt. Indien verkies, kan jy nog ’n vierkantige stukkie geskenkpapier binne-in boksie plaas. Bind toe met ’n lint.

KODE-KASSIE

Maak vir jou ’n spesiale kassie waarin jy jou hartsgoed kan bêre. Merk die laaie met ’n kode wat net jy verstaan – seëls vir jou bêrebriewe, skulpe vir vakansie-herinneringe, ens. Maak daarby ’n interessante aansteekbord vir jou mooi poskaarte en foto’s.
Benodigdhede
Kassie: ’n Ruwe laaghoutkassie; Heritage craft acrylic-verf (kl. platinum gold); kode-items van jou keuse vir laaie; No more nails-gom van Bostik. Aansteekbord: ’n Ou raam; Plascon Velvaglo (kl. Warhol B5-7); ’n stukkie linne-materiaal.
Maak só
Verf die kassie, maar nie die sye van die laaie nie, want dan skuif dit moeilik. Plak kode-items in middel van laaie. Verf raam rooi. Maak verskillende sakkies uit linne en stik op agtergrond-lap vas. Span lap oor agterkant van raam. Plaas terug en hou in posisie met klein spykertjies.

SOET HERINNERINGE

’n Popkassie uit jou kinderdae word ’n wegsteekplek vir al die goed na aan jou hart. Die blikkies is bêreplek vir kinderbriefies en memento’s. Items wat saam gegroepeer word, het ’n groter impak as ’n klomp klein goedjies wat oral rondstaan. Jy kan ook môre se herinneringe maak deur ’n blikkie met mooi papier oor te trek. Gee so ’n blikkie met ’n klein geskenkie of ’n mooi brief daarin vir jou ma of vriendin.
Benodigdhede
Leë blikkies met deksels; geskenkpapier; Pritt-gomstiffie.
Maak só
Meet die omtrek en hoogte van blikkie plus dekselrand akkuraat met ’n liniaal en knip die stroke uit papier. Knip ook bokant van deksel, effe groter uit papier. Plak eers bokant en vou effe oor rand van deksel. Plak randstook. Plak ander strook om blikkie. Onthou, die blikkie mag nie nat word nie!

FRANSE FLAIR

’n Klein gewel kan ’n gewone werkbank omskep in een wat kan staan in ’n Franse herehuis. Die geheim is om dit ’n klassieke kleur te verf. Stal hierop jou mooiste breekgoed uit.
Benodigdhede
’n Werkbank – beskikbaar landwyd by die meeste ysterwarewinkels in verskillende groottes (pryse wissel volgens grootte); ’n plank, die lengte van werkbank en sowat 12 cm breed en 2,5 cm dik; Bostik No more nails-gom; Plascon Velvaglo (kl. Seasons E20-4).
Vir gestreepte muur: Plascon Polvin (kl. Pinto E13-3) en wit maskeerband.
Maak só
Teken ’n gewelpatroon op ’n stuk papier, die lengte van die plankie. Knip uit en trek na op die plank. Sny gewel uit met ’n figuursaag en plak aan agterkant van werkbank vas met No more nails-gom.Verf 2-3 lae Velvaglo.
Verf strepe op muur deur dit eers wit te verf, te laat droog word en dan strepe van sowat 12 cm breed met ’n liniaal en potlood uit te meet. Plak maskeerband op die strepe en verf dan die tweede kleur. Trek maskeerband af as verf droog is.

GEHEIME ORDE

Bewaar jou kosbaarhede netjies en georden.
Benodigdhede
Stewige bokse (ons het ’n boks waarin stewels gekoop is, gebruik vir die groot houer); linne-materiaal uit die reeks Happy Valley, Wild Orchid (kl. Sea Foam) van Hertex vir groot boks, effe katoenfluwele van Peace River Trade Co vir klein boksies; Pritt-gomstiffie.
Maak só
Ons het slegs gom gebruik en nêrens gestik nie. ’n Pritt-gomstiffie werk uitstekend om lap op lap, asook lap op papier te plak. Die maklikste is om deksels eers op bokse te hou, materiaal daaroor te drapeer en die hoeke weg te vou. Knip die lap groot genoeg sodat dit om deksel kan vou. Haal deksels af en knip oortollige lap in hoeke weg. Smeer genoeg gom aan rande van deksels. Plak eers hoeke plat en daarna die res. Trek onderkant van boks ook só oor.