Maak dit self

Dis Kerstyd!

KERSE & LINT (foto regs)

Benodigdhede
Glas- en kristalkershouers van verskillende hoogtes en vorm; wit en roomkleurige kerse; chiffon- en satynlinte.
Maak só
Bind om elke kershouer ’n sagte strik en rangskik dit rond en bont op jou tafel.

DIE KERSBOOM STAAN

Vervang die tradisionele Kersboom met só ’n kristal-en-lint-kersstaander. Bind jou gordyne weg met ’n string Kersliggies.
Benodigdhede
’n Verskeidenheid goudkleurige lint, rooi en glaskristalle (of Kersballe); siprestakkies, kunsvruggies.
Maak só
Ryg kristalle aan verskillende lengtes lint en bind dit aan die arms van die staankandelaar vas. Draai groen Kerskransies om die drupbakkies van die kerse en versier dit met kunsvruggies.

KLEIN GESKENKIE

Hang om middernag aan elkeen se kamerdeur só ’n gedraaide keël, gevul met klein geskenkies.
Benodigdhede
’n Vel mooi, stewige papier; Bostik Clear Gel; lint.
Maak só
Draai ’n keël met die papier en plak vas. Knip die bo-rand gelyk en plak al op hierdie rand ’n mooi lint vas. Ryg ’n plastiekkristal aan ‘n stukkie lint en plak dit aan die onderkant van die keël vas. Vul met klein geskenkies.

SILWER STYL

Rig ’n spesiale hoekie in met kershouers en ’n mooi beker vir jou drankies.
Benodigdhede
Silwer-kershouers; ’n mooi silwer-en-glas-beker; lint; kort kers; kralekransie.
Maak só

Strik linte om jou kershouers en versier die kers met die kralekransie.

MET GOUD GEDEK

Dis vinnig, mooi en feestelik om die tafel te versier met ’n paar mooi linte, kristalle en kunsvruggies.
Benodigdhede
’n Verskeidenheid linte; kristalle; kunsvruggies; klein boksies; goue doilies.
Maak só
Bind aan elke punt van die lint ’n kristal vas en plaas die linte kruis en dwars oor jou tafel. Gebruik kunsvruggies pleks van blomme en rangskik dit saam met ’n klein boksie, waarin jy ’n enkele sjokolade plaas, in ’n mooi koppie. Voeg ’n tikkie goud by vir ekstra feestelikheid: Begin dek met ’n groot goue onderbord en rond af met ’n goue doilie.

DIE TAFEL NOOI JOU

’n Buffettafel is die ideale manier om die hele feesseisoen te onthaal.
Dek só
Versier een keer vir al jou maaltye. Hou versierings min en eenvoudig, bv. klein groen boompies op ’n ry. Versier dit met klein goue Kersballe. Rangskik sommer siprestakke in potte in plaas van boompies. Gebruik ook mooi dik kerse en blink rooi appels. Sit alle kos voor op hierdie tafel. Hou jou gedekte tafel net vir borde en glase en met min versierings, sodat jou gaste genoeg ruimte het. Plaas op elke bord ’n klein toegedraaide geskenkie met ’n mooi lint en ’n vars blom of takkie.

KRISTAL & BLOMME

Gebruik mooi kristalbakkies as kershouers vir ’n spesiale tafelversiering.

DIE FEES IS WARM, VROLIK, ROOI EN GROEN

Versier jou Kersboom met koekies wat jy self bak.

WAAR JY SIT

Hang aan elke eetkamerstoel ’n paar mooi takkies en ’n bloedrooi ster met jou gaste se name daarop.
Benodigdhede
Sipres- en bloekomtakkies; rooi papier; mooi lint; 2 of 3 kristalle; kunsvruggies; rooi en goue papier; dun goudkleurige draad.
Maak só

Druk jou gaste se name op die rooi papier uit en knip dit stervormig uit. Bind die takkies saam met ’n stukkie draad. Draai ’n klein geskenkie toe in die goudkleurige papier en hang dit aan ’n draadjie. Ryg die kristalle en kunsvruggies ook aan ’n draadjie en bind alles vas met ’n mooi lint. Hang op aan elke gas se stoel met ’n lint.


ENGELTJIE VAN PAPIER


Benodigdhede
Geverfde kraalgesiggies, hare en verevlerkies (by uitsoek-stokperdjiewinkels); goue doilies; Bostik Clear Gel; klein skerp skêr.
Maak só
Knip die binnedeel van die doilie uit (anders is die rokkie te groot). Vou plooie in die doilie om die rokkie te maak. Druk die bo-punt van die rokkie in ’n skerp punt, smeer met gom en druk in die kraalgaatjie. Knip die haarlokke tot die verlangde lengte en gom vas. Jy kan ook self ’n gesiggie met ’n permanente pen op ’n houtkraal teken en ’n potskuurder (Goldilocks) vir hare gebruik.

MOOI GESTRIK


Benodigdhede
’n Verskeidenheid lint, ook lint met ’n draadrandjie; kort spelde.
Maak só

Rooi geruite strik: Vou uit die geruite lint twee lusse wat in die middel bymekaarkom. Vou nog so ’n lus, plaas op mekaar en knoop in die middel met ‘n kleiner stukkie lint die lusse aanmekaar.
Roos: Gebruik ’n lint met ’n draadrandjie. Rol ’n kroontjie styf op en rol dit dan lossies op. Druk die roos oop as jy klaar opgerol het.
Stapelstrik: Vou die lint lossies en oneweredig in ’n S-vorm op. Werk deur al die lae vas met ’n mooi kraal aan die bokant.
Lintbal: Koop ’n mediumgrootte polistireenbal. Gebruik smal lint en druk dit aan die onderkant van die bal vas met ’n kort speldjie. Draai die bal egalig en netjies toe met die lint, terwyl jy dit gedurig op verskillende plekke met die speldjies vassteek. Vou ’n klomp klein lussies met ‘n teenstellende lint om ’n roset aan die bokant van die bal te vorm en steek ook vas. Knip ’n lengte lint vir ’n ophanglus en steek ook vas. Rond af met ’n ry blinkertjies wat jy om die middel van die bal vassteek.
Groen geruite strik: Gebruik ’n breë stywe lint en maak ’n groot pap strik.
Chiffon-strik: Neem ’n lengte lint en vou die twee lusse in die middel na mekaar toe. Steek vas. Vou nog twee lusse effens groter as die vorige een en steek vas. Werk lusse vas. Knip ’n 10 cm stuk lint af en vou oor die middel van die lusse en werk vas.
Strik met groot lusse: Neem lint met ’n draadrand en vou 6 eenderse lusse in verskillende rigtings. Werk in middel vas met ’n krale-knoetsie.

KERSBALLE & STRINGE


Benodigdhede
Rooi en goue balle; syverf-omlyner; vislyn; plakker-sterretjies en kolle.
Maak só
Balle: Plak ’n paar sterretjies rondom elke bal en maak kolletjies tussenin met die omlyner. Laat dit droog word.
Sirkels en stringe: Plak twee sirkels aanmekaar met vislyn tussenin. Wissel goue en silwer sirkels af op ewe groot afstande. Plak ’n sterretjie op elkeen van die sirkels.