Maak dit self

Drama en swier

SPIEËLS (foto regs)
Jou voorportaal verklap dadelik iets van jou. Skep ’n bietjie drama met ’n muur vol spieëls wat ongelyk hang, lekkerruik-kerse in ’n oorgroot kandelaber en ’n muur in ’n gunsteling-kleur geverf.
Benodigdhede
Earthcote Distemper-verf en Antiquing Liquid; verfroller en distemper-kwas (dis ’n plat, breë kwas met ligte hare). Die verfkleur is spesiaal vir ons gemeng.
Maak só
Verf die muur met die roller. Laat droog word. Gebruik die distemper-kwas en Antiquing Liquid om die verftegniek soos volg aan te wend: Neem baie min van die vloeistof op die kwas – druk slegs die punt van kwas in die vloeistof. Verf met vinnige polsbewegings ongelyke kruise wat effens oorvleuel. Oppas dat die verf nie loop nie. As jy twyfel, laat die verf-tegnici by die verfwinkel jou wys – hulle het ook ’n diens om die tegniek vir jou te kom doen.

BLINK

BLINK.

Skep orde in jou woon- of slaapkamer. Maak vir jouself dié mooi spieëlboksie waarin jy klein goedjies kan bêre.
Benodigdhede
Houtboksie met ’n los deksel (by stokperdjiewinkels te koop); spieëls volgens die mates van die boksie gesny; gom geskik om spieëls te plak bv. Bostik Mirror of Mirrorfi x-SBR; stukkie
lint; mooi glaskraal.
Maak só
Neem die boks na ’n spieëlhandelaar en laat hulle dit opmeet en sny volgens die mates van al die kante van die boks. Vra hulle moet die dekselspieël se rand slyp en alle ander rande poleer sodat dit glad is. Plak die boks toe met die gesnyde spieëls en spieëlgom. Laat elke vlak eers goed droog word voordat jy die volgende een plak. Ryg ’n mooi glaskraal aan ’n stukkie lint en plak dit aan die binnekant van die deksel vas vir ’n handvatsel.

OOMBLIKKE

OOMBLIKKE.

Vang spesiale oomblikke vas. Vra jou gaste om hul gunstelingoomblik van die aand neer te skryf. Dis altyd lekker om dit weer te lees.
Benodigdhede
40 velle roomkleurige A3-papier; 60 x 31 cm stewige karton; 48 x 34 cm donkerpers satyn; 34 x 21 cm ligpers sy; 2 m smal lint; 35 cm sierband; donkerpers borduurgare; Pritt-gomstiffie; els; dik naald; stokperdjiemessie.
Maak só
Plaas die lang strook karton in die lengte voor jou. Meet 15 cm vanaf die rand en trek ’n ligte potloodstrepie van bo na onder, en nog ’n lyn 2 cm verder – vir flap van boek. Gebruik ’n liniaal en sny baie liggies op hierdie twee lyne. Knak die karton liggies op snylyne om vourand te vorm. Meet 21,5 cm vanaf die laaste snylyn en vou (dit is die middel van jou boek). Vou een vel papier in die helfte en plaas bo-op stapel papier. Plaas op die oopgevoude karton met middellyne gelyk. Kap met die els ’n ry gaatjies (4 tot 6) op hierdie voulyn deur al die velle papier en karton. Gebruik Pritt en trek die karton oor met die lig- en donkerpers materiaal en sierband. Gebruik foto as verwysing. Bedek rourande van binneblad met ’n vel papier of materiaal. Plaas die stapel papiere weer netjies terug op die karton. Werk met die borduurgare heen en weer deur die gaatjies en werk ’n paar komberssteke aan die binnekant om dit stewig af te heg.

GLANS

GLANS.

Só ’n stoel – oorgetrek in ’n ryk purper fluweel en met metaal beslaan – maak ’n dramatiese eerste indruk. Metaalkleure is hoogmode.
Benodigdhede
Vir ’n soortgelyke voorkoms gebruik Plascon se silwerkleurige verf om ’n meubelstuk mee te verf.
Maak só
Onthou as jy plakpapier plak: Jy moet hulp hê. Begin in die middel en werk na die kante toe. Die patrone moet presies ooreenstem. Moenie gom te dun aanmaak nie. Sny lengtes altyd langer as wat nodig is, sodat jy dit later netjies aan die bo- en onderkant met ’n stokperdjiemessie kan afsny. Rol lengtes op ’n skoon vloer af, laat plat lê en smeer die gom egalig met ’n groot kwas aan. Plak van bo na onder en vryf lugblase uit. Sorg dat daar genoeg gom aan die sykante is, want dit sal eerste daar lostrek.

STRINGE PÊRELS

STRINGE PÊRELS.

Maak ’n modestelling deur trosse pêrels te dra. ’n Oorvloed gekweekte pêrels is nou by sekere kralewinkels beskikbaar.
Benodigdhede
Algemene riglyne as jy self lang stringe inryg: Kleurverrykte, varswater pêrels is by Kaqala Trading (en sommige ander groot kralewinkels) te koop. ’n Middellyflengte string krale is ’n mode-moet en veral pêrels. Jy sal drie stringe pêrels (met ander krale tussenin) nodig hê om hierdie lengte te verkry. Gebruik ’n sterk draad soos Tiger Tail (metaaldraadjie in ’n plastiekomhulsel) vir ’n lang, swaar string.
Maak só
Kombineer pêrels met Swarovski-kristalle, geslypte glas en halfedelgesteentes.Gebruik altyd ’n dubbele krammetjie (crimp) vir ’n swaar string om vasmaakknippies in posisie te hou. Gebruik egte silwerknippies as jy met duur krale werk. Kyk mooi na jou pêrels deur dit apart te bêre, nie parfuum daarop te spuit nie en was dit nou en dan met sagte seepwater.

DROME

DROME.

Rig vir jou ’n eie “ek-plek” in met ’n luukse dagbed, stapels kussings en boeke. Hier kan jy luilekker lê en dagdroom.
Benodigdhede
Stewige plank van 180 x 60 cm; spons tot hierdie grootte gesny, sowat 15 cm dik; 2,5 m stoffeerstof vir basis; 2,5 m materiaal vir los matras; 5 m kralefraiing; houtpote (by stoffeerverskaffers te koop); kramgeweer; 3 kg Unicurl-stopsel.
Maak só
Boor op die 4 hoeke (sowat 5 cm vanaf rand) gate waarin die pote later geskroef word. Plak die spons op die plank met sponsgom. Span die stoffeerstof styf oor die basis en kram vas aan die onderkant. Werk vanaf die middel na die kante en trek materiaal so styf as moontlik. Maak ’n matras met ’n insetsel volgens die bedbasis se mates en stop dit met die stopsel. Gom die kralefraiing aan die onderrand van die bed vas. Verf die pote en skroef vas.