Maak dit self

Filmster-styl

Spieëls vir ’n ster
Knip interessante vorms uit ou koerantpapier en laat sny dit by jou naaste spieëlwinkel. Kombineer dit met mooi handspieëls of ’n geslypte spieël. Groepeer saam en versier party daarvan met ’n mooi lint. Plak linte met alkantplakkleefband op die spieëls vas. Plak spieëls met spieël-kleefband vas. Die handspieëls is van Home etc. Die lang, geslypte spieël in die middel is van Story en die klein spieël van Osiers. Die oorblywende spieëls is gesny deur Glass Men.

Sak-sjiek

Sak-sjiek.

Helderkleurige fluweel laat ’n grys dag beter lyk.
Knip só: ’n Voor- en agterpant van 37 x 27 cm; 2 sykante van 27 x 7 cm; 1 bodem van 37 x 7 cm; 2 handvatsels van 55 x 8 cm. Knip ’n voering volgens dieselfde mates, maar sonder handvatsels. Stik die sykante aan die voor- en agterpante. Stik die bodem vas. Stik die voering op dieselfde manier. Vou die handvatsels lengtegewys dubbeld en stik lang kante toe. Keer om en speld vas, sowat 10 cm vanaf die synate op die voor- en agterpant. Stik die voering aan die bo-rand van sak vas en stik terselfdertyd die handvatsels vas. Laat ’n opening en keer om. Werk opening toe. Stik ’n gleufie tussen die handvatsels waardeur die rek geryg gaan word. Knip ’n klein opening in die voering en ryg die rek daardeur. Ryg effens in en stik rek vas. 

In kleur

In kleur.

Krul op onder ’n satyn-kwilt en raak verlore in jou gunsteling-fliek. Knip blokke van 32 x 32 cm uit satyn en maak kussings wat jy liggies stop met ’n goeie gehalte stopsel. Werk in die middel van elke kussing ’n oorgetrekte knopie vas. Stik die kussings aan mekaar tot ’n lang strook en stik weer die stroke aan mekaar om die kwilt te maak. Ons het 5 stroke van 4 kussings elk gemaak. Besluit self op die grootte en kleure van jou kwilt. Mat van @home livingspace. Die stoffeermateriaal uit die Dangerous-reeks, kleur Silver en die Vogue-muurpapier is albei van Hertex Fabrics.