Maak dit self

Hout-gerus

WELKOME INDRINGERS (foto regs)
Indringer-bloekomhout is gebruik vir hierdie oulike, aweregse riempiesbank. Skep jou eie galery met rame van herwonne hout en ou houtlyste.
Vir jou eie galery: Probeer rame wat dieselfde is of gebruik net swart-wit afdrukke/foto’s. Jy kan prente hang van net bokant die vloerlys tot betreklik hoog. Hou óf die onderste óf boonste lyn van die rame gelyk en die spasies tussenin klein.

BESONDERS MET BAS

Moenie ou plastiekpotte weggooi nie. Beplak dit met stukkies boombas vir jou eie unieke plantpotte.
Benodigdhede
Plastiekplantpotte; gomgeweer en gomstafies; boombas (te koop by kwekerye); snoeiskêr.
Maak só
Laat bas goed droog word in die son voordat jy dit gebruik, anders gaan die gom nie klou nie. Verhit gom in die geweer en spuit aan agterkant van stukkies bas. Plak op ’n skoon pot totdat die hele oppervlak bedek is. Knip bas tot gewenste groottes met die snoeiskêr.

HARTLIKE KUNS

Só ’n slaapkamer sal beslis jou hart steel. Die soliede houthart-beeldhouwerk kan ook dien as sitplek. Straatkunstenaars maak dit uit herwonne hout vir Wallflower.
Die kombers kan jy self brei:
HANDGEBREIDE KOMBERS
Voltooide grootte: 130 x 150 cm. Benodigdhede: 11 x 100 g-bolle Elle Naturals Wheat (kl. sepia) van Saprotex; 6 mm-breipenne.
Spanning: 14½ steke en 23 rye = 10 cm met penne van 6 mm in omgekeerde koussteek (= met regte kant na voor, brei een ry aweregs en volgende ry regs).
Brei só
Brei kombers in twee dele. Heg 110 steke aan en brei reguit in omgekeerde koussteek tot werk 131 cm lank is. Heg alle steke lossies af. Afwerking: Plaas regte kante op mekaar en werk die twee dele netjies aanmekaar. Vou 0,5 cm van aan- en afheg-rande om na verkeerde kante en werk soompies lossies vas. Maak fraiings: Knip vir elk 4 lengtes van 25 cm en knoop deur soompies.