Maak dit self

Jani se blog: Van plastiekpot tot duursame ‘sementpot’ in 4 stappe

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel weekliks haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag laat sy ’n doodgewone plastiekpot soos ’n duursame sementpot lyk.

Wie sou kon raai dat met ’n bietjie tekstuur en verf jy ’n goedkoop plastiekpot in iets spesiaals kan omskep wat vreeslik duur en mooi lyk?

Fnuik ’n plastiekpot

JY BENODIG

  • Plastiekpotjie – winkels soos Plastic Warehouse verkoop dít vir onder R10
  • Annie Sloan Chalk Paint™
  • Skuurpapier (sowat 100-grint-skuurpapier)
  • Modge Podge
  • Prent om op die pot te découpage
  • Skêr
  • Groot, growwe verfkwas
  • Klein, sagte verfkwas

by benodighede of stap 1

STAP 1

Begin deur die pot oral met die skuurpapier te skuur. Ons gebruik ’n growwe skuurpapier vir twee redes: eerstens, dit dra by tot die uiteindelike tekstuur wat sement naboots, en tweedens skep dit ’n goeie oppervlak vir die verf om beter aan die gladde plastiekpot se oppervlak te klou.

stap 1

STAP 2

Noudat die pot se oppervlak voorberei is, kan jy die Annie Sloan Chalk Paint™ oopmaak en begin verf! Hierdie verf is juis so wonderlik omdat dit op allerlei oppervlakte sit sonder dat enige onderlaag (primer) nodig is. Chalk Paint™ bied ook ekstra voordeel omdat jy die verf kan aandik deur oksidasie – los letterlik net die deksel af vir ’n paar uur en die verf sal ’n loperige klei-tekstuur kry. En dít is perfek vir die growwe tekstuur wat jy wil bou. Gee die hele pot wel eers net ’n dun, soliede lagie verf.

Stap 2

STAP 3

Jou geverfde pot is gereed vir die découpage-werk. Ek het ek ’n prent gekies met ’n agtergrond wat mooi inskakeer by die kleur van die verf wat ek gebruik het.

Om te découpage: Knip jou prentjie uit, verf ’n dikkerige laag Modge Podge op, plaas jou prentjie versigtig in plek en verf weer ’n paar lae Podge bo-oor.

Stap 3

STAP 4

Wanneer die Podge droog is, kan jy die tekstuur op die pot begin aandik – gebruik ’n growwe kwas (’n kwas met growwe, harde hare) – dit gee jou onmiddelik goeie tekstuur.

Gebruik ook gerus ’n mengsel van verskeie kleure wat jou ’n bietjie meer dimensie kan gee – ek het Annie Sloan Chalk Paint™ se Cream, Versailles en Old Ochre gebruik. Verf tot teenaan die rande van die prentjie en vee-vee so half oor die prentjie ook sommer net om dit as ’n geheel met die pot in te skakeer.

stap 4

Jou eindproduk

Jy kan nou die verf laat droog word. Indien jy van plan is om die pot buite te gebruik sou jy dit kon seël, maar met Chalk Paint™ kan jy die potjie net so buite sit en jou plante daarin plant! En siedaar – jy het uit ’n goedkoop plastiekpot ’n pragtige item gemaak wat lyk na ’n duur sementpot.

klaar klaar2