Maak dit self

Jani se DIY-blog: Hou al jou belangrike dinge op jou onthou-rak

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag maak sy ’n onthou-rakkie wat jy teen die muur kan hang.

“Onthou-rakkie”

Ons het so baie stukkies afvalhout wat in die winkel rondlê dat ek besluit het om ’n fraai onthou-rakkie van dié hout, ogiesdraad en verf te maak!

Jy benodig:

  • benodighede JANI RAKHoutplanke (so groot soos jy jou rakkie wil hê)
  • Kouelym
  • Skryfbordverf
  • Waterbasisverf vir die basislaag
  • Podge
  • Prente wat jy wil podge
  • Handvatsels van hout
  • Ogiesdraad
  • Hamer
  • Spykers (ek gebruik sommer paneelspykers, maar as jy nie bang is vir boor nie, is skroewe beter)
  • Metaal-hoekhakies
  • Breë lint

STAP 1: Beplan

Ek begin gewoonlik deur die eindproduk te visualiseer. In hierdie geval het ek ’n paar afvalhoute gebruik om ’n klein hangrak te vorm.

Jy kan enige hout en enige grootte gebruik – kyk wat in die motorhuis rondlê, of gaan koop by die ysterwarewinkel.

Ek het gebruik: 

  • 2 dun plankies (ek gebruik SA Pine) van 90 cm x 34 mm x 34 mm vir die bene
  • 2 SA Pine-planke van 60 cm x 22 cm x 12 mm dik vir die boonste en onderste paneel
  • 1 stukkie vloerlys van 60 cm x 22 cm (dikte van normale vloerlys)
  • (Lengte x breedte x dikte)

1 b met woorde JANI RAK

STAP 2: Ogiesdraad

A

Die ogiesdraad vorm die rugkant van ons rak waaraan ons papiere, kaartjies, blomme en enigiets wat ons wil hou en onthou kan hang en hak.

Knip, of laat knip by die ysterwarewinkel, ogiesdraad wat ’n bietjie groter as die afmetings van jou rak is.

2 a JANI RAK

B

Nou begin ons die rak aanmekaarsit. Omdat die ogiesdraad effens rek, is dit makliker om eers die boonste paneel en die bene aan mekaar vas te slaan vir stabiliteit, maar jy moet die ogiesdraad onder die boonste paneel sit voordat jy die bene vasslaan.

Volg dié roete

  1. Smeer kouelym aan die plekke waar die bene en boonste paneel aan mekaar gaan raak.
  2. Plaas die ogiesdraad op die bene en gom hulle vas aan die boonste paneel. Kap ook twee spykers aan elke kant in om die bene en die boonste paneel goed te heg.
  3. Begin die ogiesdraad aan die bene heg. Jy kan ’n kramgeweer hiervoor gebruik of paneelspykers halfpad inkap en hulle dan skuins en plat oor die ogiesdraad slaan.

STAP 3: Lint

Noudat jy die boonste paneel, twee bene en die ogiesdraad aan mekaar geheg het, gaan ons die draad se skerp rande verbloem. Ek doen dit sommer deur ’n lang, dik laplint bo-oor die ogiesdraad se punte vas te spyker – of gebruik ‘n kramgeweer.

3 a JANI RAK 3 b JANI RAK

WENK: Vou die bo-kant van die lint om voordat jy dit vaskram. Dit sal die rand mooi afwerk. Laat die onderkant lank genoeg wees sodat jy die onderste paneel bo-oor die onderste punt van die lint kan vasspyker.

STAP 4: Verf

Indien jy rou hout gebruik (soos ek), verf eers ‘n waterbasis-onderlaag aan en laat droog word. Verf nou al jou panele en hout-handvatsels.

Verf dit in enige skakering wat jy verkies – ek kies ‘n mooi helder, boheemse gevoel. Ek verf skryfbordverf op die boonste en onderste panele en bring ‘n paar patrone in ander kleure aan.

WENK: Jy kan enige kleur skryfbordverf laat meng by Paint & Decor DIY.

STAP 5: Découpage

Wanneer al die geverfde panele droog is, kan jy of direk aangaan met stap 6, of soos in dié voorbeeld, jou rakkie ekstra te verfraai met découpage.

Ek découpage met servette sowel as papierprentjies. Knip jou prente uit. Smeer Podge aan die areas waar jy wil podge, plaas die prentjie sorgvuldig op die nat podge en smeer dit plat met ‘n kwassie vol Podge. Maak seker daar is geen borrels onder jou prent nie.

STAP 6: Rakkie vasheg

Om die rakkie aan jou basis-struktuur te heg, gebruik ‘n metaal-hoekhakie aan elke kant van die rakkie-plank waar dit aan die houtbene gaan vasheg. Ons gaan die rakkie vasskroef – dis in hierdie geval stewiger as spykers.

Merk waar skroewe gaan kom deur ‘n potlood deur die gaatjies te druk en ‘n merkie te maak. Kap nou ‘n spykertjie net so ¼ in. Trek die spykertjie weer uit. Nou het jy ‘n gidsgaatjie wat jou skroef makliker die hout sal laat binnedring.

Ek gebruik sommer ‘n handskroewedraaier om nou die skroewe deur die metaal-hoekhakie in die hout te draai.

WENK – Meet mooi dat die rakkie op presies die regte plek vasgeheg word: dit is so ver van die onderkant van die bene af as wat die breedte van die onderste paneel is.

STAP 7: Onderste paneel se hakies vasheg

Ek het besluit om die onderste paneel vir hangplek te gebruik. Ek het sommer goedkoop hout-deurknoppies gekoop. Heg die knoppies nou aan die onderste paneel vas met skroewe of spykers en kouelym.

STAP 8: Kap onderste paneel vas

Die laaste strukturele deel van die rakkie is om die onderste paneel vas te spyker. Ek gebruik sommer lekker lang paneelspykers en kouelym. Paneelspykers is lekker omdat hulle koppies baie klein is en jy hulle dus op die vooraansig van ‘n projek kan inslaan sonder dat dit visueel steurend is.

Kyk mooi dat jy hierdie onderste paneel so na as moontlik aan die rakkie se onderkant vasslaan.

STAP 9: Hang

Heel laaste kan jy hakies of skroefies in die agterkant van die bene vasdraai om die rakkie teen die muur te hang.

9 a JANI RAK

STAP 10: Versier plesier

Hang jou rakkie teen ‘n muur bo jou lessenaar of in jou ingangsportaal. Jy kan enige foto of mooi papiere aan die ogiesdraad hang en vasmaak. Skryf notas of inspirerende woorde op die pragtige skryfbord-paneel en hang jou hoede, reg vir ‘n dag-uitstappie!

WENK – ek het spesiaal ‘n afvalstukkie vloerlysbord gebruik vir die rakkie sodat ek my penne en bordkryt in die groefie kan laat lê.

10 c JANI RAK 10 d JANI RAK 10 e JANI RAK 10 f JANI RAK 10 g JANI RAK

 

Tot volgende week,

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs