Jani blog houtbord klaar b
Maak dit self

Jani se DIY-blog: Maak jou broodplank mooi

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag gee sy ’n ou afgeleefde broodplank nuwe lewe.

Ons daaglikse brood-bord

Ek is, soos julle seker al agtergekom het, heeltemal dol op woorde en skrif. Ek is óók gaande oor kos en om mooi skinkborde te pak. Ek het wel nie altyd genoeg keramiek nie en soms wil jy hê iets moet mooi én rustic wees. Vandag wys ek vir jou die maklikste en mooiste transfer-tegniek om jou ou broodplanke in iets besonders te omskep.

Jy benodig

  • Ou of nuwe broodplanke (jy kan ook ’n nuwe stuk hout gebruik – maak net seker daar is nie vernis op nie)
  • 100-grint-skuurpapier
  • Mooi teks of ontwerp in spieëlbeeld gedruk op ’n laser-drukker (Of laai die unieke Kaas-en-brood-motief af wat ek spesiaal ontwerp het en spog bietjie met vintage-Afrikaans! Met komplimente van Paint & Decor DIY. Kry dit onderaan dié artikel.)
  • Verf-verdunner (thinners)
  • Mutton cloth of ’n ou wit T-hemp
  • Maskeerband
  • Verf van jou keuse – PVA werk die beste (Hierdie is vir bietjie ekstra versiering, maar nie nodig nie)

Jani blog houtbord benodighede

Stap 1 – Skuur

Skuur jou broodplank net sodat enige olierigheid of rowwe grein bietjie sagter is. Jy wil ’n taamlik eweredige en gladde oppervlak hê.

Jani blog houtbord 1 skuur

Stap 2 – Plak vas

Keer jou mooi motief om, posisioneer dit mooi waar jy dit wil hê (dit is hoekom jy enige teks in spieëlbeeld moet druk). Plak die papier om die randjies vas met maskeerband – dis sodat die papier nie rondskuif terwyl jy daaroor vee nie.

Jani blog houtbord 2a plak

Stap 3 – Vee

Maak jou mutton cloth of T-hemp effens nat met verf-verdunner. Dis belangrik om nie jou lappie sopnat te maak nie, want dit sal die ink te veel laat loop. Plaas die klam lappie op die omgekeerde, vasgeplakte prent en begin vee. Begin by een hoek en werk stelselmatig oor die hele prent. Die papier sal deursigtig raak. Maak seker jy vryf lekker hard en sorgvuldig oor die hele papier – jy dra nou letterlik die ink van die papier af na die houtbord oor (transfer).

Jani blog houtbord 3a thinners Jani blog houtbord 3b thinners

Stap 4 – Trek af

Hierdie is my gunsteling-oomblik! Ek raak altyd opgewonde om die papier te lig en te sien of die ink mooi oorgedra het. Doen dit eers versigtig van een hoekie af. Loer of die ink mooi oorgedra is. Peul dan die hele papier van die bord af.

Jani blog houtbord 4 verrassing

Indien dit lyk of die ink plek-plek nie oorgedra is nie, vou die papier weer terug teen die bord en vee nog ’n bietjie met die klam lap. En siedaar! Jou teks is op die bord en reg vir gebruik!

Kant en klaar

Jy kan met gewone PVA-verf ’n paar strepies langs die kante verf soos in ons voorbeeld, of die teks eenvoudig op die bord hou.

Jani blog houtbord 5 kleur

Jy kan ook die bord met ’n bietjie olyfolie vee, maar eers nadat die thinners uit die hout verdamp het.

* Moenie direk nadat jy ge-transfer het kos op die borde bedien nie. Doen dit eers nadat die thinners heeltemal verslaan het. Was dit ook eers met warm water en seep.

Jani blog houtbord klaar a Jani blog houtbord klaar b Jani blog houtbord klaar c

Ek hoop julle spog almal dié naweek met pragtige broodplanke! Vreugdevolle naweke vir julle!

Jani blog houtbord 4b verrassing

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Kaas-en-brood-motief

Regsklik en SAVE. Druk dit dan uit op ’n laser-drukker.

Jani blog houtbord Kaas en brood bord komplimente van Paint & Decor

Jani se vorige blogs