boom7
Dekorstories

Jani se DIY-blog: Maak jou eie boomstomp-kershouers

Jani Goussard van Paint & Decor DIY blog deel weekliks haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag maak sy houtstomp-blakers vir ’n gesellige winter-atmosfeer. 

Met die winter om die draai en die eerste reëns in die Kaap, het ek myself bitter jammer gekry omdat ek nie ’n kaggel met ’n knetterende vuurtjie het nie. Ek het toe maar ’n ander plan beraam – een wat jy ook blitsvinnig aanmekaar kan timmer!

Daar is hout en vuur betrokke, maar geen as om ná die tyd weg te gooi nie én jy kan dit op jou tafel of op jou stoep sit!

Houtstomp-kersblakers

JY BENODIG

  • Houtstompe – sommer opteltakke, of vra by ’n houtfabriek. (Jy sal ook verbaas wees watter mooi stompe is soms tussen die braaihout!)
  • Klampe en houtsaag (indien jy nie stompe kan optel nie)
  • Sny-tang
  • Baie dun spykertjies (panel pin nails)
  • Hamer

STAP 1

Begin deur vir jou ’n mooi versameling stompe van verskillende diktes te vind.

STAP 2

Indien die stompe nie reeds stomp en gelyk gesny is nie, vra iemand om die stomp vir jou vas te druk of knyp dit in ’n bank-klamp vas en saag die stomp sodat daar ’n stomp ent aan albei kante is, min of meer parallel en egalig.

boom1

Maak die stompe staan by mekaar en kyk of dit jou visueel tevrede stel. Ek hou van onegalige hoogtes, maar jy kan almal ook min of meer dieselfde hoogte sny of kies.

STAP 3

Die dun spykertjies gaan ons nou inslaan. Gebruik die hamer en wees versigtig om nie jou vingers raak te slaan nie. Timmer die spyker op sy kop – eers rustig en wanneer hy mooi op sy eie staan, kan jy so ’n paar lekker houe direk van bo gee om die spyker stewig in die hout te anker. Maar maak seker daar is ’n goeie 1,5 cm van die spyker wat uitsteek.

boom2

Hierdie spykers gaan jou kers op die stomp vashou.

STAP 4

Noudat jou spyker goed ingekap is, kan jy sy koppie versigtig afknip met ’n draadtang. Ons wil die kop afknip omdat dit die kers sal laat split wanneer jy die kers wil vasdruk op die stomp.

boom3

STAP 5

Pleks van net een spyker vir die kers, kan jy ook ’n paar ander spykers op allerlei plekke en rigtings in jou kersblaker-stomp slaan (volg stappe 3 en 4) en versierings daaraan hang. Ek het sommer uit model-klei ’n paar voëltjies gemaak en ingedruk. Jy kan ook blomme daarom drapeer.

boom3

boom4

STAP 6

Jou nuwe “kaggel” is nou reg vir vuurmaak! ;) Wees versigtig wanneer jy die kers-bodem in die spyker druk, dun kerse breek maklik. Gebruik dik kerse indien jy het, en draai eerder die kers in as wat jy dit met krag afdruk.

boom6

Jy kan ook vir ’n rukkie met ’n vuurhoutjie die spykertjie effens warm maak sodat die kers makliker lekker diep kan insteek. En siedaar! ’n Pragtige houtvuur vir jou tafel, of vloer – of net waar jy ’n bietjie hitte en lig verlang.

boom5

Kyk hoe mooi!

boom7 boom8 boom9 boom10

Bly warm in styl!

Tot volgende keer,

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte
 
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.