Maak dit self

Jani se DIY-blog: Maak jou eie dekor-blokkies

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag maak sy dekor-blokkies om enige vertrek op te fraai …

Jou eie dekor-blokkies

Ons almal het daai gaatjie in ons huis of op ’n rak – ’n plekkie wat iets fraai en eenvoudig kort. Ek het nooit sulke houtblokkies in my huis gehad nie, want ek kon nog nooit indink dat ek ’n HELE paar note daarvoor moet opdok nie … net vir ’n houtblokkie.

Vandag maak ek dié houtblokkies self en ek kyk sommer hoe goedkoop ek dit kan doen. Ek was mal oor die eindproduk! Ek hoop julle geniet hierdie een.

Jy benodig

  • Karton
  • Skêr
  • Liniaal
  • Maskeerband
  • Kraakvuller (Ek gebruik PowaFix se Superfine Powaskim)
  • Skraper
  • 100-grint-skuurpapier
  • Kwas
  • Verf (Ek gebruik Annie Sloan CHALK PAINT™ net omdat ek gaande is oor die tekstuur wat dit gee, maar jy kan enige verf gebruik)
  • Annie Sloan Clear Soft Wax of die Dark Wax
  • Kaasdoek (mutton cloth)

Stap 1: Meet en pas

Besluit hoe groot jy jou dekor-blokkie wil maak. Myne is 8 cm x 8 cm.

Trek die grootte van jou blokkie op die karton sodat jy op die lyne kan buig en ’n boksie kan vou. Ek het dit in 3 stappe opgebreek. Eerstens het ek ’n strook van 8 cm x 32 cm uitgesny. Ek het elke 8 cm ’n klein kepie met ’n skêr langs die liniaal getrek. Dit maak dit net makliker om te knak en te vou. Dít vorm die kante van jou blokkie. Tweedens het ek twee 8 cm x 8-cm blokkies uitgeknip. Derdens het ek my blokkie voltooi deur die karton met maskeerband aanmekaar te plak.

Nou gaan ons die blokkie versier sodat dit nie soos karton lyk nie!

STAP 2: Gee lyf

Gee die karton tekstuur en verbloem die maskeerband met kraakopvuller wat jy met ’n skraper aanwend. Vee die vuller so glad soos jy kan aan elke sy – doen eers ’n paar sye en laat op ’n onbehandelde sy droog word.

Jy kan ook soos in dié voorbeeld patrone in die vuller uitkerf.

STAP 3: Maak nog

Terwyl jou blokkie droog word, maak nóg ’n paar blokkies. Ek sou sê minstens 3, maar as dit vir ’n kind se kamer is, of jy wil ’n woord uitspel, maak soveel soos wat jy nodig het.

Dié projek is so maklik en pret, jou kinders kan ook help!

STAP 4: Skuur

Wanneer die blokkies droog is, gebruik die skuurpapier om die growwe punte sag en glad te skuur.

4 a klaar 7 jani diy

Dít verg dalk bietjie tyd omdat die mengsel nogal hard droog word. Maar die resultaat is die moeite werd!

STAP 5: Verf

Noudat jou blokkies mooi geskuur is, kan ons verf. Ek gaan my blokkies ’n verweerde voorkoms gee deur die “afskilfer”-tegniek te gebruik. Ons het dié tegniek ook met die vorige projek gebruik.

  • Verf eers ’n onderlaag in die kleur van jou keuse. Dis gewoonlik mooi om ’n donker kleur te kies vir die basis-laag. Ek gebruik Annie Sloan CHALK PAINT™ se Graphite-kleur. Verf al die kante en laat droog word.
  • Dan verf ek die tweede kleur bo-oor. Ek het Paris Grey en Duck Egg Blue van Annie Sloan CHALK PAINT™ gekies.

6 b klaar 7 jani diy

STAP 6: Skuur weer

Wanneer die tweede laag ook droog is, kan jy liggies begin skuur. Skuur net plek-plek totdat die basislaag begin deurkom. Jy kan altyd ook weer toeverf waar jy so ver geskuur het dat die wit van die vuller begin deurskyn.

7 a klaar 7 jani diy

STAP 7: Waks

Die waks is die lagie wat die Chalk Paint™ seël. Jy kan ook ’n mooi outentieke voorkoms kry as jy die Dark Soft Wax gebruik.

8 a klaar 7 jani diy

Wend die waks met ’n kaasdoek of ou wit T-hemp aan.Vee sorgvuldig ’n bietjie Clear Soft Wax aan die geverfde blokke totdat die voorkoms egalig lyk – die waks bring die kleur mooi uit en laat die skakerings ook dieper vertoon.

Eindproduk

Een, twee, drie – BLOK myself!

klaar 4 klaar 7 jani diy

klaar 3 klaar 7 jani diy

klaar 5 klaar 7 jani diy

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs