Maak dit self

Jani se DIY-blog: Maak jou eie lampskerm in 8 stappe

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag laat sy ’n doodgewone plastiekbak soos ’n duursame lampskerm lyk.

’n Blink plan met plastiekbakke

So met die winter wat dieper ons hede inkruip en die dae wat donkerder raak, is dit hoog tyd om bietjie meer lig ons lewens te kry. Hierdie ligte is so maklik en uiters goedkoop om te maak. Ek hang sommer ’n hele plafon vol daarvan!

Jy benodig:

  • BenodighedeTwee plastiekbakke – ’n groot een en ’n kleiner een met vorms waarvan jy hou. (Die plastiek moet nie te dik wees nie.)
  • 100-grint-skuurpapier
  • Stewige, vastepunt-matmessie
  • Annie Sloan CHALK PAINT™ (CHALK PAINT™ kan op plastiek en menige ander oppervlakke geverf word sonder om die objek af te skuur of te prime – dit maak hierdie projek dus ekstra vinnig en maklik.)
  • Mediumgroot verfkwas
  • Gomgeweer
  • Annie Sloan™ Clear Soft Wax
  • Bladgoud (Hierdie is nie noodsaaklik nie, maar die metaal-afwerking is bitterlik mooi. Jy kan ook net nóg ’n lagie verf hier gebruik pleks van die goudblad wat bietjie duurder is.)
  • Elektriese toebehore (Vra sommer vir die gawe mense by jou plaaslike ysterwarewinkel om die lig se toebehore vir jou aan die elektriese koord te sit, of doen dit self.)

Stap 1: Skuur

Skuur jou twee plastiekbakkes liggies met die skuurpapier. Die skuurpapier gee die verf ’n beter oppervlak om aan te klou.

1, skuur

Stap 2: Verf

Verf jou bakkies binne-in in die kleure van jou keuse. Ek het Scandinavian Pink CHALK PAINT™ gebruik. (Ek gaan wel die binnekant met goudblad bedek, daarom gaan die donkerpienk net plek-plek deurkom.)

Stap 3: Sny

Ons moet nou in elke bak ’n gat maak. In die klein bakkie is net ’n klein gat vir die elektriese koord nodig, maar in die groter bak is ’n groot genoeg opening nodig sodat die toebehore en die gloeilamp daardeur kan hang.

Begin met die groot bak: Plaas die bak onderstebo en plat op ’n stewige tafel. Gebruik ’n skêr en steek ’n gat in die bodem  – jy kan ook ’n hamer en spyker gebruik om die gat te maak. Sodra jy ’n gat gemaak het, gebruik jou matmessie soos ’n blik-oopmaker en sny die bodem van die bak uit.

3e snyVir die kleiner bakkie: Werk versigtiger, want jy wil net ’n klein gaatjie hê – net groot genoeg vir die elektriese koord. Steek ’n gaatjie met ’n spyker en hamer, of maak soos ek en sny ’n driehoek met ’n matmessie uit die bodem.

 

Stap 4: Meet

Nou is ons reg om die twee bakke aanmekaar te sit vir die uiteindelike vorm van die lig. Plaas die kleiner bakkie bo-op die groter bak. Maak seker dit is in die middel en merk met ’n pen rondom die buitelyn van die bak. Hierdie buitelyn sal jou aanduiding wees van waar om ’n gomlyn met jou gomgeweer te trek.

4 meet

Stap 5: Plak

Werk vinnig met die gomgeweer sodat die gom nie droog word voordat jy die bakke op mekaar het nie (dit gebeur vinniger as wat jy dink). Trek ’n lyntjie al langs jou pen-lyn, posisioneer dan die klein bakkie bo-op en druk lekker vas. (Jy kan die gom wat dalk by die rande uitpeul sommer net met die messie afsny.)

Stap 6: Verf

Noudat die vorm van jou lig klaar is, kan ons die buitekant verf. Ek gebruik Antoinette CHALK PAINT™ vir hierdie projek.

6 verf

Stap 7: Bladgoud

Ek is dolverlief op pienk en goud saam – die binnekant van hierdie lig gaan ek met bladgoud uitvoer om dit ekstra mooi te maak, maar ook om die lig van die gloeilamp meer te reflekteer.

Om te verguld (gild) is doodeenvoudig. Die basislaag bestaan uit ’n spesiale gom (size). Dié gom verf jy sorgvuldig oral waar jy die bladgoud wil hê (die bladgoud sal net sit waar die gom aangewend is, maak dus ekstra seker jy verf oral). Was jou kwassie met water skoon.

Laat die gom droog word – dit raak taai wanneer dit droog is en dit is dan wanneer jy die bladgoud versigtig daarop plaas en liggies vasvryf met ’n droë, sagte verfkwas.

7e guild

(Jy kan nou ook jou verbeelding en kreatiwiteit gebruik om allerlei patrone of woorde te teken met die size en die bladgoud op hierdie patrone te plak sodat dit jou lig met pragtige goue patrone of aanhalings versier.)

Kyk ook HIER vir meer inligting hoe om met bladgoud te werk

Stap 8: Waks

Om jou lig af te rond, seël dit met ’n lagie Annie Sloan Soft Clear Wax. Wend dit sommer soos politoer aan met ’n ou T-hemp as lap.

8 wax

Eindproduk

Jy kan nou die elektriese deel van jou lig installeer deur eers die elektriese koord deur die gat in die bo-kant van die lig in te ryg.

klaar a klaar b klaar c klaar d

Geniet hierdie nuwe lig in jou lewe – en gee sommer een as geskenk of kom maak een by ons in ’n werkswinkel.

NS. Indien jy nie seker is hoe om die elektriese bedrading te doen nie, vra sommer jou ysterwarehandelaar of lees weer volgende week my blog, dan wys ek vir jou hoe om die bedrading vir ’n liggie te installeer wanneer ons ’n lampskerm oortrek!)

Mooi week!

Tot volgende week,

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs