klaar aa
Maak dit self

Jani DIY-blog: Maak jou eie lampskerm

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag gee sy ’n ou afgeleefde lampskerm nuwe lewe.

Versier met papier

Ek sit nou al ’n geruime tyd met ’n baie nuttige – maar vreeslike ou en afgematte – staanlamp. Dié week wys ek jou hoe om ’n nuwe lampskerm te maak op ’n baie eenvoudige en lekker manier.

Jy benodig

  • Waspapier (ja – die waspapier wat jy in jou bakplate lê!)
  • Kleefplastiek
  • Muurpapier-gom (te koop by ysterwarewinkels en verfwinkels soos Paint & Decor DIY)
  • ’n Ou lampskerm
  • PVA-verf
  • Jou gunsteling-gedig op papier uitgedruk

Stap 1 – Kleefplastiek

Draai jou hele lampskerm toe met kleefplasiek (Glad Wrap). Ons doen dit om ’n gietvorm te maak van jou ou, afgematte lampskerm waarop ons die nuwe lampskerm met papiermaché gaan bou.

(Die kleefplastiek verseker dat die papiermaché nie aan die lamp vassit nie en maklik as aparte vorm loskom nadat dit droog geword het.)

1c

Stap 2 – Papiermaché

Ons gaan muurpapier-gom gebruik as ons papiermaché se bindmiddel. Maak die gom lekker sterk aan – ek gebruik so 50 gram vir 750 ml water.

Skeur jou waspapier in stukke op –  ek sou sê hou dit die grootte van jou handpalm en ’n bietjie groter.

(Ek gebruik waspapier sodat ons ’n halfdeursigtige, neutrale basis vir die lamp kan bou. Wanneer die lig daardeur skyn, sien jy allerlei interessante patrone. Ons gaan ook ’n bietjie met verf toor …maar meer hieroor in die laaste stap.)

Neem een stuk papier op ’n slag, vryf dit tussen jou hande lekker dik met die muurpapiergom en plak teen die kleefplastiekbedekte lampskerm. Vee elke stuk papier lekker glad aan met jou hande.

Plak só jou hele lampskerm toe – werk netjies om die rande (maar onthou – dit bly papier – so jy kan aan die einde die rande netjies sny met ’n skêr indien jou hand nie so akkuraat wil werk nie).

Plak drie lae – ons bou basies ’n hele nuwe lampskerm, daarom wil jy dit taamlik stewig hê. Moet wel nie veel meer as drie lae plak nie, want jy wil nog ’n effense deursigtigheid behou.

Stap 3 – Wag

Laat die papiermaché heeltemal droog word.

3

Stap 4 – Versier

Noudat jou lampskerm goed droog geword het, kan jy dit begin versier. Vir dié projek was ek lus vir ’n boom-motief saam met een van my gunsteling-gedigte van Ian McCallum.

Druk jou gedig uit en skeer dit in stukke – sodat dit mooi inpas met die res van die tekstuur van jou papiermaché-lig.

Plak jou gedig ook met muurpapiergom op jou lamp en laat dit droog word.

Gerbruik die PVA-verf (sommer gewone akrielverf, ek gebruik Paint & Décor se Decorative Matt in wit en grys). Verf vir jou enige patrone of woorde, of soos in die voorbeeld – bome en voëls. Die wit verf op die waspapier-papiermaché is nie so duidelik nie – maar wag net tot jy die liggie aangeskakel het!

 

Stap 5 – Nuwe skerm

Wanner jou nuwe lampskerm se ontwerp mooi en droog is, kan jy dit saam met die kleefplastiek van die onderste lampskerm-vorm aftrek. Dit sal maklik aftrek, maar werk nogtans versigtig.

5

Stap 6 – Verwyder die ou skerm

Ons wil nou die lampskerm op die draad-basis van jou ou lampskerm sit – verwyder dus die vorige ou materiaal – jy kan dit afknip of sny of sommer die gom wat die lap in plek hou van die draad lostrek.

Stap 7 – Sit die nuwe skerm op!

Ons gebruik weer papiermaché om die nuwe lampskerm aan die draadbasis te heg. Plaas jou papiermaché-lampskerm oor jou draadbasis – en vou stukkies waspapier met muurpapiergom aan al om die rand van die draad. Maak seker die papier vou van die lamp se buitekant af oor die draad en vee dit  aan die binnekant mooi plat met die gom aan jou vingers. Só heg jy jou nuwe skerm netjies en stewig aan die draadbasis.

Stap 8 – Sit nuwe lampskerm op

Laat weer eens die papiermaché heeltemal droog word en plaas dan jou nuwe lampskerm op die basis van jou lamp of staanlig.

8

Eindproduk

Draai ’n gloeilamp in, skakel aan, en voilà! Kyk hoe pragtig gloei jou splinternuwe lamp en hoe mooi staan die wit-en-swart bome uit as donkerder lyne teen die verligte, effens deursigtige agtergrond van die waspapier.

 

klaar b klaar d

Ek hoop julle het almal die naweek baie pret met skeur en plak en mooi nuwe lampskerms!

Tot volgende week,

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs