Maak dit self

Jani se DIY-blog: Maak jou kas se handvatsels weer mooi

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag gee sy ou kashandvatsels nuwe lewe.

Verfraai ou kas-handvatsels

Ek het ’n eenvoudige greinhoutlaaikas by my huis – hy is só prakties, maar ook só eenvoudig! Aan sy laaie is doodnormale houthandvatsels, en wie was al ooit verlief op doodnormaal?

net na benodighede 1

Vandag begin ons met ’n reeks DIY-projekte om sulke eenvoudige knoppe maklik in iets fraai te verander deur dit te versier.

Jy benodig

  • Handvatsels wat ’n face-lift nodig het
  • Annie Sloan CHALK PAINT™
  • Papierdoilies
  • Skêr
  • Koperblad (jy kry ook goud-, ougoud en silwerblad)
  • Koperbladgom (sizing)
  • Modge Podge
  • Annie Sloan Clear Soft Wax en die Dark Wax
  • Kaasdoek (mutton cloth) en ’n paar kwassies

net na benodighede 3

STAP 1: Verf die handvatsels

Verf die handvatsels in enige kleur wat in jou smaak val. Ek gaan vandag vier voorbeelde doen:

  • Louis Blue (vars ligblou)
  • Scandinavian Pink (sterk, vintage-pienk)
  • Aubusson Blue (stormsee donkerblou)
  • Burgundy (diep merlot-rooi)

STAP 2: Knip die doilie

Terwyl jy wag dat die Chalk Paint™ droog word, begin solank van die herhalende patrone van jou doilie uitknip. Knip soveel uit as wat jy nodig het.

(Dié week gebruik ons ’n doilie om te versier, volgende week probeer ons ’n ander tegniek.)

2 knip die doilie

STAP 3: Verf en bladgoud

Verf nou die papierblommetjies wat jy uitgeknip het.

  • Ek het een papierblommetjie met English Yellow geverf vir saam met die Burgundy-rooi knop om dit ’n Kubaanse voorkoms te gee.
  • Ek het een van die blommetjies wit gelos saam met die blou knop vir ’n Delft-voorkoms.
  • Die ander twee het ek met bladgoud versier:
    • Verf die papierblommetjie met die goudbladgom en wag totdat dit droog raak – dit moet steeds gommerig en taai voel. Plaas nou sorgvuldig jou bladgoud of -silwer op die patroon en vee mooi plat met ’n skoon en droë kwassie. Werk al om die rande en maak seker die silwer en goud word netjies weggevee.

3 f guild die doilie

STAP 4: Podge

As jou doilie-patrone droog is, smeer podge op die knoppe en plaas ’n doilie in die middel van elke knop. Smeer weer ’n laag podge bo-oor – jy kan dit ook bo-oor die bladgoud verf, want die Podge word kleurloos droog.

STAP 5: Waks

Nadat die Podge droog is, kan jy dié knoppies seël met Annie Sloan se Clear Soft Wax. Die donker waks gee dit ’n antieke gevoel, maar volgende week wys ek ook ’n ander tegniek om vintage-knoppe te maak.

5 wax

Ek hoop dit gaan dié naweek knop-disselboom met jou!

4 f podge knop klaar 1

 
 
 
 
 
Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs