Jani DIY koffietafel  klaar 8
Maak dit self

Jani se DIY-blog: Maak ’n sjiek koffietafel van ’n ou lessenaar- of eetkamertafel

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag maak sy ’n koffietafel van ’n ou eetkamertafel.

Sjiek koffietafel

In die proses om antieke meubels op te spoor, koop jy soms inderhaas iets wat later na ’n kat in die sak lyk. Dís presies wat met my gebeur het! Ek het ’n ou tafel gekoop, maar sy een poot het ’n onsigbare las gehad en toe sommer heeltemal afgebreek!

Gelukkig is daar altyd ’n plan te maak met ’n bietjie Verbeelding ;). Ons maak vandag ’n koffietafel van ’n ou lessenaar- of eetkamertafel.

Jani DIY koffietafel  klaar 4

Jy benodig:

  • ’n Ou tafel
  • Annie Sloan Chalk Paint™ (of gewone PVA-verf en hout-onderlaag)
  • Skuurpapier (’n growwe skuurpapier, omtrent 100 grint)
  • Modge Podge
  • Prente om te découpage
  • Skêr
  • Groot, growwe verfkwas
  • Klein, sagte verfkwas
  • Teks of gedig in spieëlbeeld op ’n laserdrukker gedruk
  • Verfverdunner (thinners)
  • Kaasdoek (mutton cloth)
  • Vernis

Stap 1: Saag

Voor ons begin verf en versier, gaan ons die pote van ons lessenaartafel afsny om dit in ’n fraai koffietafel te verander. Begin deur die pote van jou tafel van die bokant van die tafelblad te meet. ’n Koffietafel is gewoonlik sowat 45 cm hoog. Meet dus 45 cm van die boonste vlak van die blad af. Trek ’n merk teen die pote met bordkryt. Saag die pote loodreg af.

En daar het jy ’n koffietafel!

Stap 2: Beplan

Beplan eers jou idee of ontwerp op papier of werk dit mooi uit op die tafel se blad. Jy kan sommer met bordkryt op die tafel teken om te beplan.

Ek gaan ’n rand blomme op die tafelblad découpage en fokus op die hoeke, met ’n streep-patroon in die middel – en dan ’n gedig afdruk (transfer) met verfverdunner.

Teken jou idee met bordkryt op die tafel. Indien jy strepe maak, plak maskeerband sodat jy die strepe netjies en reguit kan verf.

Stap 3: Verf

Hoera! Nou begin die opwindende deel! Ek gaan die streep-patroon op my tafelblad verf met Annie Sloan™ Chalk Paint in Paris Grey en Country Grey. (Indien jy nie Chalk Paint gebruik nie, moet jy eers jou houttafel skuur en met ’n onderlaag verf. Wanneer dit goed droog is, kan jy jou PVA verf).

Die hoeke en buitekant van die pote verf ek in Emperor’s Silk Chalk Paint en die binne-kante van die pote met Chateau Grey Chalk Paint.

(Ek het die rooi en groen gekies omdat dit mooi pas by die blompapier wat ek uitgedruk het om op die hoeke te découpage.)

Verf twee lae verf om seker te maak die tafel is oral mooi bedek.

Stap 4: Découpage

Wanneer die verf oral droog is, kan jy begin découpage. Omdat ek ’n spesifieke vorm wil hê wat mooi tussen die geverfde ronding op die blad en die hoek van die tafel inpas, gaan ek ’n ou truuk gebruik: Neem bakpapier en plaas dit plat op die tafel waar die jy die découpage wil hê. In my geval is dit in die hoek. Jy sal die patroon sien deurskyn deur die bakpapier – trek dit af met ’n pen of potlood. Knip uit. Nou kan jy hierdie as ’n “patroon-vorm” gebruik en jou découpage-papier volgens die ronding en hoeke daarvan uitknip. Doen hierdie proses vir al die hoeke (of al die dele van jou eie patroon) waar jy gaan découpage.

Om te découpage is baie eenvoudig. Verf ’n lekker dik laag Podge (ons gebruik Dala se Podge) op die gedeelte van die tafel waar die prentjie gaan wees. Plaas die prentjie sorgvuldig op die nat Podge en smeer dit plat met ’n kwassie wat weer gelaai is met Podge. Indien jy ’n groot prent Podge, laat lê die prentjie geleidelik op die Podge terwyl jy meer Podge met ’n kwas bo-oor aanwend. Maak seker daar is geen blase onder jou prent nie.

Voltooi só jou hele tafelblad, en ook op ander plekke waar nog detail sal mooi lyk.

Stap 5: Afronding

Nadat die Podge mooi droog is, kan jy ekstra detail met ’n fyner kwassie en verf aanbring (Podge is witterig as jy dit aanvanklik aanwend, en raak blink en deursigtig droog). Ek trek ’n vryhand-lyntjie in dieselfde groen (Chateau Grey) as wat aan die pote se binnekante geverf is bo-op die tafel blad en ook rondom die ovaal blom-embleem wat ek aan die kant van die tafel ge-Podge het.

Jani DIY koffietafel  5 a Jani DIY koffietafel  5 b

Stap 6: Afdruk (transfer)

Die tafel lyk nou al vreeslik mooi – ek verf hom egter vir my ma en wil graag haar gunsteling-gedig op die tafel blad afdruk. (Jy kan egter ook gerus net nog verf of aangaan na stap 7).

Om die gedig af te druk (transfer) gebruik ons my gunsteling verfverdunner-tegniek, soos wat ons al in ander projekte ook gedoen het.

Druk vir jou ’n gedig in spieëlbeeld uit op ’n laser-drukker. Knip die sinne uit en rangskik dit op die tafelblad soos jy dit verkies.

Maak jou kaasdoek (of ou wit T-hemp) effens nat met ’n bietjie verfverdunner. Dis belangrik om nie jou lappie sopnat te maak nie, want dit sal die ink te veel laat loop. Plaas die klam  lappie op die omgekeerde, vasgeplakte prent en begin vee. Begin by een hoek van die papier en werk stelselmatig oor die hele prent. Die papier sal deursigtig raak met die vee van die verdunner. Maak seker jy vryf lekker hard en sorgvuldig oor die hele papier – jy dra nou letterlik die ink van die papier af oor tot op die tafelblad.

Oooo, en hierdie is my GUNSTELING-oomblik! Ek raak altyd opgewonde om die papier te lig en te sien of die ink mooi afgekom het. Doen dit eers versigtig van een hoekie af. As die ink mooi afgekom het, peul die hele papier van die tafel af. Indien die ink plek-plek nie afgekom het nie, vou die papier weer terug teen die tafel en vee nog ’n bietjie met die verfverdunner.

En SIEDAAR! Jou teks is op die tafel!

Stap 7: Vernis

Wag so paar minute vir die verfverdunner om heeltemal van die tafelblad af te verdamp. Verf dan jou hele tafel met ’n duursame vernis met ’n waterbasis. Ons gebruik Harlequin Paints se Exterior-vernis. (Dit is baie duursaam en het ’n pragtige satyn-afwerking.)

Wanneer die eerste laag vernis droog is, verf ’n tweede laag vir ekstra beskerming.

Jani DIY koffietafel  7 a

 

EN geniet jou koffietafel!

Jani DIY koffietafel  klaar 1 Jani DIY koffietafel  klaar 5 Jani DIY koffietafel  klaar 6 Jani DIY koffietafel  klaar 8

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs