Maak dit self

Jani se DIY-blog: Maak ontwerpersbakke

Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag maak sy kamma-keramiekbakke met “goue” bodems uit doodgewone plastiekbakke.

“Ontwerpersbakke”

Ek is totaal verlief op die nuwe gier van mat-keramiekbakke en -bekers met vergulde afwerkings as dekor-items. Vandag maak ons ons eie weergawe hiervan wat so waar as vet nes duur keramiek lyk!

Jy benodig:

  • Plastiekbakke
  • Annie Sloan CHALK PAINT™
  • Skuurpapier – 120-grint sowel as 320-grint
  • Bladgoud
  • Bladgoudgom (sizing)
  • Annie Sloan Clear Soft Wax
  • Vernislak (Shellac) opgelos in brandspiritus (methylated spirits)
  • Kaasdoek (mutton cloth) en ’n paar kwassies

Jani blog ontwerpersbakke

Stap 1: Skuur

Begin deur die plastiekbakke oral met die 120-grint-skuurpapier te skuur. Ons gebruik ’n growwe skuurpapier om die oppervlak vir die verf voor te berei.

Jani blog ontwerpersbakke

Stap 2: Verf

Verf jou bakkies in die kleure van jou keuse. Gebruik ’n verfkwas met baie sagte hare – ons wil so min as moontlik tekstuur op die bakke hê. Hamiltons se Ensign-kwasse of Annie Sloan se verfkwaste werk perfek.

Ek gebruik Scandinavian Pink CHALK PAINT™ vir die bodems. Alhoewel die binnekant met die goudblad bedek word, gaan die donkerpienk so plek-plek deurskyn. Die buitekant van die bakke gaan ek in klassieke kleure verf – ’n “warm” wit wat na porselein sal lyk (Annie Sloan™ Original), ’n ligte grys met ’n warm ondertoon (Annie Sloan™ Paloma) en houtskoolgrys (Annie Sloan™ Graphite).

Verf die bakke solied en laat die eerste laag goed droog word. Verf nou nóg ’n laag of selfs twee. Ons gaan die potte afskuur om van enige kwashaal-teksture ontslae te raak, daarom kan jy maar ’n paar lae verf.

Stap 3: Skuur

Wanneer jou lae verf heeltemal droog is, gaan ons ’n pragtige keramiek-tekstuur skep. Gebruik ’n baie gladde skuurpapier  (soos ’n 320-grint of selfs fyner) en skuur nou egalig oral oor die buitekant van die geverfde bakke. Jy sal onmidellik sien en VOEL hoe pragtig glad die verf raak wanneer dit op dié manier geskuur word. Ons “poleer” as’t ware die verf met skuurpapier.

Jani blog ontwerpersbakke

Wanneer die bakke glad geskuur is, begin ons met die vergulding.

Stap 4: Bladgoud

Om te verguld (gild) is doodeenvoudig. Die basislaag bestaan uit ’n spesiale gom (size). Dié gom verf jy sorgvuldig oral waar jy die bladgoud wil hê (die bladgoud sal net sit waar die gom aangewend is, maak dus dubbelseker jy verf oral). In ons geval oor die hele binnekant van die bak.

Was jou kwassie met water skoon.

Laat die gom droog word – dit raak taai en deursigtig wanneer dit droog is en dit is dan wanneer jy die bladgoud versigtig daarop plaas en liggies vasvryf met ’n droë, sagte verfkwas. Werk sorgvuldig en probeer groot stukke bladgoud aanwend sonder dat dit te veel skeur.

Jani blog ontwerpersbakke

Stap 5: Vernislak (Shellac)

Ons seël die bladgoud aan die binnekant van die bakke met Shellac. Dit is ’n produk wat deur die eeue gebruik word vir dekoratiewe seëlwerk en het ’n pragtige, natuurlike diep glans. Ons verkoop dit as vlokkies wat jy oplos in brandspiritus in ’n 1:1-verhouding. Los die oplossing in ’n glashouertjie totdat die vlokkies heeltemal opgelos is en dit ’n goue loperige stroop gevorm het.

Wend die Shellac oor die bladgoud met ’n verfkwas aan. Dit verseker dat die goud nie verdof of skade kry nie. Jy kan twee lae van dié vernislak aanwend. Was jou kwas met brandspiritus.

Stap 6: Rond die rand af

Soms wil die bladgoud nie mooi tot teenaan die rand van die bak klou nie. Verf ’n mooi streep met verf om die rand.

Jani blog ontwerpersbakke

Stap 7: Waks

Al wat nou oorbly, is om die buitekant van jou bak te seël. Ek gaan in hierdie geval Annie Sloan se Clear Soft Wax gebruik omdat dit ’n pragtige sagte effek skep terwyl dit ook die bak seël. Vryf die waks met ’n kaasdoek aan die bak se buitekant. Dit sal effens deur die verf geabsorbeer word. Jy kan die volgende dag weer ’n laag waks invryf.

Die bakke is nou pragtige uitstalstukke, of jy kan dit as bêreplek gebruik – dalk vir jou juweliersware.

Jani blog ontwerpersbakke  Jani blog ontwerpersbakke Jani blog ontwerpersbakke Jani blog ontwerpersbakke

Ek hoop julle geniet hierdie projek, want ons almal is ontwerpers wat ontwerpersbakke kan maak.

Tot volgende week,

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs