JANI DIY BLOG 1
Dekorstories

Jani se DIY-blog: Verf jou tekkies

 

Jani Goussard van Paint & Decor DIY blog nou vir SARIE.com. Sy deel weekliks haar nuutste projekte met ons en wys jou stap vir stap hoe om dié projekte sélf te doen. Vandag verf sy sommer doodgewone wit tekkies in pragtige pastel-kleure.

She walks in beauty, like the night
Of cloudless climes and starry skies
 

Só begin een van my gunsteling-gedigte deur lord Byron oor die betowering van ’n vrou. Elke vrou, oud en jonk, enkel of getroud, behoort in skoonheid te loop én mooi te voel terwyl sy die spore trap wat sy op hierdie aarde agterlaat.

Ons wys jou dié week die eenvoudigste manier om van doodgewone seilskoene (R49,95 by PEP) iets baie spesiaals te maak – iets waarin elke vrou haar mooiste voetjie kan voorsit.

Wat het jy nodig?

  • Seilskoene (nuut of oud)
  • Annie Sloan CHALK PAINT™
  • Verfkwas (klein vir detail en medium vir groter areas)
  • Papier en potlood

Stap 1

JANI DIY BLOG 1

Gebruik ’n effekleur seilskoen vir die projek. Wit werk lekker om enige kleur wat jy gebruik mooi te laat afsteek.

 

 

 

Stap 2

Voor jy begin verf is dit ’n goeie idee om vinnig ’n paar sketse te maak om jou ontwerp te beplan – en ook kleure te toets.

Stap 3

JANI DIY BLOG 1Wanneer jy gelukkig is met jou ontwerp op papier, kan jy die veters uit die skoene ryg en die patroon/prent begin oorteken op die skoene. Gebruik ’n potlood of, nog beter, ’n materiaalpen wat uitwas.

 

 

 

 

 

Stap 4

Voor jy begin verf, plak maskeerband, of “painter’s tape” al om die sool van jou skoen sodat daar nie verf op mors nie.

Stap 5

Nou kan jy begin verf! Chalk Paint™ is ’n baie dik soort verf – verdun dit gerus sodat die verf maklik deur die skoen se materiaal absorbeer kan word.

JANI DIY BLOG 1

Stap 6

Laat staan jou skoene vir ’n paar uur of selfs oornag om droog te word voordat jy hulle dra. Daarna kan jy jou veters weer inryg, die maskeerband aftrek en die metaal-ogies met ’n nat lappie skoonvee.

JANI DIY BLOG 1JANI DIY BLOG 1

Nou kan jy in skoonheid die dorp gaan rooi verf…of pienk en blou ;)

Mooi loop!

Tot volgende keer,

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte
 
 
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.