Maak dit self

Kant en klaar

FYN BAADJIE VIR JOU KAS (foto regs)
Benodigdhede
’n Rou dennehoutkas; Woodoc 20-verseëlaar en kleurtint (Full Moon); nuwe knoppies; muurpapier en -gom.
Maak só
Meng die verseëlaar en tint saam en kleurwas die hele kas. Skroef knoppies aan. Meet die panele binne die raamwerk van die kasdeure en knip die muurpapier daarvolgens. Maak muurpapiergom aan volgens aanwysings, smeer met ’n breë kwas aan agterkant van papier en plak op deure se panele.

TROETELGOED

Vang soet oomblikke op jou teetafel vas met die mooiste koek wat jy kan bak, fyn kantbedrukte glase en handgemaakte beker. Enige mooi kantpatroon, byvoorbeeld ’n doilie of ’n stukkie gekoopte kant, kan gebruik word om die patroon op die koek te verkry.
Benodigdhede
Koek: ’n Onversierde sjokoladekoek; enige mooi stensilpatroon of ’n doilie; sif; versiersuiker; ’n strook katoenkant.
Skoenlappers:
’n Vel papier; klein krale; kontakgom; bloemistedraad.
Maak só

Koek:
Sorg dat die koek heeltemal afgekoel en droog bo-op is. Plaas ’n kantpatroon bo-op en sif versiersuiker liggies oor. Haal patroon versigtig af en bind ’n strook kant om die koek.
Skoenlappers:
Vou ’n vel papier in die helfte en plaas helfte van skoenlappermotief daarop. Sny lyntjies met kunsmessie uit. Plak ’n kraletjie op elke voeler en steek ’n stukkie bloemistedraad deur die lyfie. Buig terug. Steek puntjie in die koek, of gebruik as versiering op ’n geskenk.

MUURPATRONE

Met ’n mooi stensilpatroon – wat herinner aan ’n strook kant – teen jou muur geverf het jy nie skilderye nodig nie.
Benodigdhede
Stensilpatroon; asetaat; Bostik se Art and Craft-spuitgom; Plascon-verf (Sherbrook C28/6); sponsrollertjie of gewone sponsie; kunsmessie.
Maak só
Vergroot die stensilpatroon op ’n fotostaatmasjien (ons patroon is sowat 24 cm breed). Plaas onder asetaat en sny uit. Besluit waar jy ’n paneel wil stensil en merk met ’n reguit lyn in ligte potlood teen die muur. Spuit gom aan agterkant van stensil. Begin werk vanaf onderkant van muur en plak stensil in posisie. Gebruik die rollertjie slegs as die muur glad is, of stip andersins verf aan met sponsie. Herhaal tot paneel voltooi is.

SIRKELS OP JOU SAK

’n Sak, ryklik versier met kant, wil-wil nostalgies raak.
Benodigdhede
50 x 140 cm katoenmateriaal asook aanstryk-Vilene vir basis; 40 x 80 cm kantmateriaal; gare.
Maak só
Stryk Vilene aan agterkant van katoenmateriaal. Knip twee panele van 35 cm breed en 30 cm lank vir voor- en agterkant van sak, ’n lang strook van 8 cm breed vir die sykante en bodem, asook twee handvatsels elk van 50 cm lank en 8 cm breed. Stik insetsel aan sykante en bodem van sakpanele en knip gelyk af met bo-rand. Knip nou kantpanele so groot soos voor- en agterkant en werk met hand op sak vas. Vou handvatselstroke dubbel, stik toe en dop om. Stik aan sak, sowat 6 cm vanaf sy-rande. Werk ook ’n stukkie kant op elke handvatsel. Vou insetsels in ’n plooi aan die bokant en werk met die hand vas.

BORDE MET ’N FYN PATROON

Wenke: As jou borde in grootte verskil, hang eers die onderste ry met onderrande gelyk, dan die buitenste twee rye, daarna die boonste met borande gelyk en laastens die borde in die middel. Ons het Hilti-spykers en bordrekke gebruik.

NUWE KERSLIG

Wenk: As jy moeg is vir jou houtrakke, kleurwas dit soos die kas. Vir interessantheid het ons ook ’n fyn blaarpatroontjie in wit daarop gestensil. Maak jou eie teeliggies deur patroontjies uit papier te pons en rondom ’n gewone drinkglas te plak. ’n Verskeidenheid papierponsies is deesdae by groot papierwinkels te koop.