Maak dit self

Leef verleidelik

NOG ’N SITPLEK (foto regs)
Kombineer fluweel en koordferweel – dit nooi jou om jou neer te vlei.
Benodigdhedehandgebreide kussingsloop:
Elle Sensual-breidraad; 5 mm-breipenne.
Maak só
Besluit self hoe groot jy die sloop wil brei. Met 22 steke en 30 rye sal jy ’n blokkie van 10 cm in koussteek kan brei. Werk hiervolgens self uit hoeveel steke jy moet opstel.

BEKOOR MET KRALE

BEKOOR MET KRALE.

Groot viltkrale aan ’n fyn koperdraad hang veerlig om jou nek. Dra dit soms met ’n vilt-en-kristalkraal wat jy aan ’n fluweellint vaswerk.
Benodigdhede
Vir viltkrale aan koperdraad: 125 cm koperkleurige tigertail-inrygdraad; 5 groot viltkrale; 10 krale-kappies; krale-krammetjies (crimps); krale-knip; krale-tangetjie.
Maak só
Ryg ’n groot kraal met ’n krale-kappie aan albei kante in tot in die middel van die inrygdraad. Kram krale-krammetjies weerskante vas. Ryg die oorblywende krale op gelyke afstande weerskante in en kram vas. Kram kraleknip (vasmaakmiddel) vas.

KLEUR EN TEKSTUUR

KLEUR EN TEKSTUUR.

Jou bed moet jou nooi en verlei.
Benodigdhede
Oorgooideken: 2m Seduction Colvert- breë koordferweel en 2,5 m Gavotte-damas. Pas groottes aan vir jou bed (bogenoemde is vir ’n driekwartbed).
Maak só
Knip 10 cm af aan een lang sy van koordferweel. Plaas laasgenoemde en damas op mekaar met regte kante na buite en damas wat ewe ver rondom uitsteek. Speld aanmekaar vas en vou buiterande oor ferweel om as omboorsels te dien. Stik vas (vou en stik eers lang sye).

MET PATROON VERSIER

MET PATROON VERSIER.

Van die kleinste stukkie fluweel kan jy iets sensueels maak.
Benodigdhede
Seduction Stonelight-fluweel; papierstempel met ’n groterige ontwerp; strykyster.
Maak só
Gebruik 100% katoenfluweel. Bedek ’n harde oppervlak met ’n strykkombers. Stel yster op warm, geen stoom (linne/katoen-merk). Plaas stempel op strykkombers. Plaas fluweel in posisie met die verkeerde kant na bo. Druk yster vir ’n paar sekondes stewig af op dié area. Gaan voort tot jy verlangde effek het. Die fluweelpool sal nou permanent plat wees.

KUIER KNUS

KUIER KNUS.

Gebruik ’n verleidelike stuk sy-fluweel en maak jou eie krale-fraiing. Jy kan ook só ’n fraiing aan ’n poolvagkombersie vaswerk.
Benodigdhede
Deken van sy-fluweel: 1,5 m sy-fluweel; groot viltkrale, 2 stringe kristalkrale; smal fluweellint; 1,5 m voeringstof.
Maak só
Stik die voering en fluweel rondom aanmekaar, maar laat ’n opening. Dop om, werk opening toe en werk die rande plat met klein, netjiese stekies. Stik die fluweellint aan albei kort kante. Ryg 3 of 4 kraletjies in, dan ’n groot kraal en anker dit met ’n klein kraletjie. Werk weer die gare terug deur al die krale en anker dit stewig en onsigbaar in die randjie van die lint. Gaan so voort tot die fraiing voltooi is.