Maak dit self

Linte en lente

Muurblommetjies (foto regs)
Skep ’n muurversiering van lint en jou eerste lenteblomme. Verf ’n tak wit en plak breë lengtes linte oor die tak vas met alkant-kleefband. Knoop smal linte tussenin vas en hang klein blompotjies met lenteblomme daaraan op. Die peervormige potjies is van Kenly en die ander met handvatsels van Mr Price Home. Groepeer ook ’n versameling gekleurde glaspotte met enkele blomme op ’n werktafel. Die blou en pienk glasbottels is van Home etc., die gekleurde glase van Clicks en die klein pienk glasie van Home Affairs. Die werktafel van Home Affairs is die ideale bêreplek vir jou mooi blompotte. Die blou blompotte en klein pienk blompot op die onderste rak is ook van Home Affairs. Die ander glasblompotte is van Kenly. Ander items stilis se eie.

Teetyd

Teetyd.

Draai stoele se rugkant toe in mooi satynlint. Versier kolwyntjies met miniatuur-vlaggies wat jy op ’n tandestokkie vasplak. Die ronde tafel is van Story, koekstaander van Mr Price Home en die teekoppies, kleinbordjies en stoele van Home Affairs. Die ligpienk en ligpers kussings is van Silk and Cotton Co.

Etiket

Etiket.

Moenie stukkies oorskiet-lint weggooi nie. Plak dit op ’n stewige stukkie papier vas met Pritt-gom en knip in die vorm van ’n etiket. Maak ’n gaatjie met ’n papier-pons en plak ’n plastiekringetjie om die gaatjie. Laasgenoemde is by skryfbehoeftewinkels te koop. Ryg ’n smal lintjie deur die gaatjie, en skryf jou boodskap op die papierkant van die etiket. Potlode is van Story. Die linte is van Ebony & Ivory en Liberty Twill-materiaal van bbellamy & bbellamy fabrics.

Afgerond

Afgerond.

Gebruik ’n stukkie mooi oorskiet-lint om ’n modieuse borsspeld of versiering vir ’n kussing of lampskerm te maak. Kyk na ons foto as verwysing en vou die linte in strikke of dubbeld in die lengte. Werk vas met ’n knopie of ’n smaller stukkie lint. Om ’n roset te maak: ryg die een lang kant van die lint in en rol dit plat op. Werk ’n speldjie aan die agterkant vas. Al die linte (behalwe helderpienk lint met rygstekies is stilis se eie) verskaf deur Ebony & Ivory. Agtergrond-materiaal is 100% linne, ontwerp: Boulder, kleur: Pearl, van Silk and Cotton Co.

Lig en Vrolik

Lig en Vrolik.

Versier ’n effekleurige lampskerm met vrolike lint. Meet die omtrek van die lampskerm en knip linte volgens dié mate, maar voeg 3 cm by sodat linte by die las kan oorvleuel. Smeer die linte met Pritt-gom en plak ewe ver uit mekaar op die lampskerm vas. Linte is van Ebony & Ivory. Die pienk bakkie is van Clicks en die glasvaas met linte van Mr Price Home. Die pienk kussings is van Silk and Cotton Co. Ander items stilis se eie.