Maak dit self

Mooi & maklik

Mooi & maklik
By jou vakansieplek wil jy lekker kuier en ontspan. Laat dit prentjiemooi lyk met artikels wat jy self kan maak.

A
DAGBED
Let op die maklike manier om die punte van die rolkussing toe te kry.

Benodigdhede
’n Dennehoutplank van sowat 61 x 180 cm; ’n enkelbedsponsmatras gesny tot
hierdie grootte; rolkussing met ’n deursnee van sowat 20 cm en 61 cm lank; spons gom; 6 pote; 2 x 4 cm oortrekknope; 3 m x 140 cm stoffeermateriaal; sowat 61 x 180 cm ongebleikte linne; kramgeweer. Rolkussings kan by sponswinkels gekoop word. Sponsgom is by sponsen
ysterwarewinkels te kry en verskillende groottes pote by stoffeer- en groot ysterwarewinkels.

Maak só
• Knip sowat 70 cm van die materiaal af vir die rolkussing.
• Gom die spons op die plank vas en laat droog word.
• Gooi die materiaal met die verkeerde kant na bo oor die spons en plank en stryk glad met jou hand.
• Speld die hoeke af – sorg dat die materiaal styf oor die spons pas.
• Haal af van die spons en stik die hoeke.
• Knip die oortollige materiaal by die hoeke weg.
• Keer om en pas weer oor die spons.
• Vou die materiaal na die agterkant en knip oortollige lap weg (laat sowat 25 cm toe).
• Kram dit op kort afstande vas en vou dit netjies weg by die hoeke.
• Vou die rou rande van die ongebleikte linne na die verkeerde kant en kram dit sowat 1,5 van die rand vas om die onderkant van die dagbed netjies af te werk.
• Skroef 4 pote sowat 8 cm van die rand vas en die oorblywende 2 in die middel van die plank.
• Knip uit die oorblywende materiaal ’n reghoek van 67 x 81cm.
• Plaas die lang kante opmekaar en stik toe tot ’n silinder.
• Sigsag die rou rand.
• Trek die silinder oor die rolkussing sodat aan elke end 10 cm verbysteek.
• Vou hierdie oorblywende materiaal in netjiese voue en steek liggies vas soos jy vorder.
• Werk die plooie met sterk gare in die middel vas.
• Trek die groot knope oor en werk dit in die middel met ’n krom naald vas.

B
STRANDSAK
’n Strandsak moet lekker groot en prakties wees. Ons het een gemaak van geweefde
plastiekmateriaal.

Benodighede
1 meter geweefde plastiekmateriaal (te kry by Cape Twines & Packaging, Woodstock, 021 447 4352 en Transvaal Twines, Johannesburg, 011 474 8767); 1 m keperband; plastiek- of glaskrale; 1m kolletjiesmateriaal vir binnevoering (ons het Ottigers Dot van St Leger &
Viney gebruik).

Maak só
• Knip uit die plastiek- en kolletjiesmateriaal ’n reghoek van sowat 90 x 47 cm.
• Vou dit lengtegewys dubbeld en stik die lang kante toe – die vou is aan die onderkant en vorm die bodem van die sak.
• Vou twee hoeke van 20 cm by die synate weg om ’n plat bodem te maak.
• Stik en knip oortollige lap weg. Aangesien die plastiekmateriaal erg rafel, moet jy dit eers sigsag en dan teen die stiksel afknip.
• Stik 2 handvatsels uit die oorblywende materiaal (bepaal self die lengte) en speld dit ooreenstemmend aan die rou rand van die plastieksak.
• Voltooi die binnevoering op dieselfde wyse, en plaas die bokant van die sakke met regte kante opmekaar en nate gelyk.
• Stik deur al die lae en terselfdertyd die handvastels vas.
• Dubbelstik oor die handvatsels om dit te versterk.
• Laat ’n opening en keer om.
• Druk die binnevoering in die sak.
• Werk die krale stewig aan die een rand van die keperband vas.
• Stik die keperband op die rand van die sak vas.
• Gebruik ’n ritsvoetjie as jy teen die krale stik

C
MAKLIKE BLINDING MET GLASKRALE
Kies glaskrale, want dit laat mooi lig deur.

Benodigdhede
Materiaal en voering volgens jou venstermate; keperband; groterige glaskrale; klein glaskrale; stewige plankie volgens venstermate; Velcro; dun nylontou; plastiekringetjies;
blou merkpen.

Maak só
• Knip die blinding volgens jou venstermate en knip 2 cm nate aan die sy- en onderkant
aan, en sowat 8 cm aan die bokant.
• Werk die rou rande af en stik synate.
• Knip die voering 1 cm smaller as die blinding en stik die synate.
• Stik die voering en blinding by die onderkant aanmekaar en pars plat sodat die voering
nie uitkruip nie.
• Werk die glaskrale aan die keperband vas.
• Ryg die krale op verskillende hoogtes in.
• Stik die keperband aan die onderrand van die blinding vas.
• Verdeel die voering in 3 of 4 gelyke dele (meer as dit ’n baie hoë venster is) en trek
horisontale strepe met die merkpen.
• Stik die blinding en voering aanmekaar op hierdie lyne.
• Werk die plastiekringetjies op die sykante van die blinding vas, sowat 3 cm vanaf die naat.
• Werk nog ’n ry ringetjies ooreenstemmend in die middel van die blinding vas.
• Trek die plankie met ’n stukkie afvallap oor en kram die Velcro aan die voorkant van die plank vas.
• Bepaal weer die lengte van die blinding en vou die oortollige materiaal aan die bokant na verkeerde kant.
• Stik die oorblywende Velcro aan die borand vas.
• Skroef die plankie aan die vensterraam (of muur) en draai 3 stewige skroef-ogies ooreenstemmend met die plastiekringetjies aan die onderkant van die plankie vas.

D
TAFELDOEK MET GEWIGGIES
Lekker eet en vakansie gaan hand aan hand. Sorg dat jy ’n mooi tafeldoek het, en maak gewiggies van krale en sinkers sodat die wind nie pla nie.

Benodigdhede
Materiaal volgens jou tafelgrootte (ons het St Leger & Viney se Seasonal Stripes: Hawaii Green gebruik); ’n verskeidenheid krale, skulpe en 6 sinkers dun vislyn – van die soort waaraan krale geryg word – beskikbaar by kralewinkels; 6 oopknip-sleutelringe

Maak só
• Stik ’n netjiese soom rondom en slaan op elke punt en in die middel van die tafeldoek ’n metaal-ogie vas.
• Ryg ’n klompie krale en skulpe op verskillende hoogtes in en ryg die sinker aan ’n dubbele draad tussen hulle in.
• As jou kraleklossies swaar genoeg is, kan jy die sinker weglaat.
• Knoop die kraleklossie aan die bokant gelyk vas met al die stringe gare.
• Knoop nou die bondel gare styf om die sleutelring met ’n dubbele knoop.
• Werk die individuele garedrade in die kralestringetjies weg.
• Knip die sleutelring deur die metaal-ogie as jy buite dek.

E
BOEKE VIR DIE STRAND
Boeke kom altyd ’n bietjie gehawend van die strand af. Maak oortreksels wat jou gunsteling-tydskrif en boek sal beskerm.

Benodigdhede
Afvalmateriaal, groot genoeg om ’n boek mee oor te trek; Dala se Waterproofing Medium.

Maak só
• Vou die materiaal lossies, met die regte kant na binne, om die boek en tydskrif.
• Laat speling by die rugkant, sodat jy met gemak boeke kan verwissel.
• Vou ’n diep inslag by die voor- en agterkant en speld dit toe langs die sye.
• Laat ’n naattoelating van 1,5 cm. Haal af en knip oortollige lap weg.
• Maak spelde los en verf die materiaal met Dala Waterproofing Medium.
• Volg die vervaardiger se aanwysings noukeurig. Die materiaal lyk nog dieselfde, maar is nou waterwerend.
• Kap die rou rande om en vou materiaal weer oor boek.
• Speld af en stik die inslae vas.
• Dop om en trek die boek oor.

F
GLASMERKERS
Merk elke gas se glas met ‘n stringetjie krale in ’n ander kleurkombinasie.

Maak só
Knoop ‘n groot kraal aan een punt van ‘n garedraad, ryg ‘n paar kleiner krale in en eindig met ‘n krale-lussie. Druk ‘n groot kraal deur die lussie en haak oor die glas se voetstuk.