sept07selfmaak1a
Maak dit self

Op sy plek

SKRIF AAN DIE MUUR (foto regs)
Benut muurspasie optimaal. Verf ’n skryfbord met Plascon Cashmere by jou eethoek of in die kombuis. Só beplan jy jou week en niks bly vergete nie. Cashmere werk net so goed soos swartbordverf. Ons het ’n A3-papier as mate gebruik. Meet 8 blokke uit en verf dit in 4 verskillende skakerings. Stensil ’n mooi ontwerp aan die bokant, asook die dae van die week. Gebruik die laaste blok vir belangrike telefoonnommers. Stensils is by stokperdjie- en groot hardewarewinkels te koop. Skryf met bordkryt op die muur en vee af met ’n skoon, klam spons.

ONDER DIE TAFEL


Moenie dat bêreplek vir jou gunsteling-tydskrifte en -boeke ’n probleem word nie. Maak so ’n trollie (of ’n hele paar) wat jy onder ’n tafel of bed kan laat ingly. Meet die ruimte tussen die pote van jou tafel. Koop ’n dennehout-rakplank en saag dit in 2 stukke volgens dié mate. Gom en skroef die planke aan mekaar sodat jy een dik plank het. Skroef 4 wieletjies met ’n sluitaksie onder die trollie vas en rond af met ’n mooi handvatsel. Rakplanke en wiele is by die meeste hardewarewinkels te koop.
Wenk Die meeste groot hardewarewinkels kan planke volgens maat saag.

KNUS INGEGORD

Bêre jou sybokhaar-komberse deur dit styf op te rol en met ’n belt vas te maak. So bly dit netjies en neem min plek op.

KANTOOR IN ’N KAS

Só ’n kas is ideaal as jy min plek het of as jy nie ’n studeerkamer het nie. Dis ook ideaal vir iemand wat van die huis af werk. Daar is oorgenoeg pakplek, plek vir ’n rekenaar en drukker met netjies afgewerkte gate waardeur die kragdrade geryg kan word. Alles wat jy nodig het vir ’n tuiskantoor – en saans maak jy net die kasdeure toe.