Maak dit self

Prentjiemooi Paasfees

Word stil (foto regs)
Geniet ’n bietjie alleentyd met ’n mooi boek, ’n koppie tee en ’n handgemaakte Paaseier. Koop ’n Paaseiervorm (2 helftes in een vorm), gekleurde foelie en goeie sjokolade by spesialiteit-bakkerywinkels, soos die Baking Tin. Smelt die sjokolade in ’n dubbelkoker. Gebruik ’n fyn kwassie en verf die vorm met ’n paar lae gesmelte sjokolade. Laat droog word tussen lae. Hou aan verf totdat die sjokolade dik genoeg is. Plaas in die vrieskas tot kliphard en tik dit dan liggies los op jou werkoppervlak (hol kant na onder). Maak die rande gelyk met ’n skerp mes, verf ’n bietjie gesmelte sjokolade op die rande en plak die twee helftes aan mekaar. Draai toe in foelie of versier na smaak. Die koppie is van Home Comforts. Die oranje bakkie is van Mr Price Home. Ander items stilis se eie.

Vleg dit

Vlieg dit.

Gebruik ’n groot bos fyn varingblare (angel’s tears) of sagte snoeitakkies en draai ’n digte nes om jou hand. Vleg die los punte deur die takkies of draai dit vas met dun bloemistedraad. Trek van die onderste takke na mekaar toe uit sodat dit ’n natuurlike bodem vorm. Laat droog word vir ’n dag of twee en knip dan ’n bodem uit karton en plak met Bostik aan die nes vas. Steek ’n fyn veertjie hier en daar in. Gebruik ’n permanente pen en skryf ’n mooi Paasboodskap op ’n lint, wat jy onderin die nessie sit. Vul die nes met mooi eiers, wat nuwe lewe simboliseer. Die houteier is van Kamersvol, terwyl die kwartel-eiers by uitsoek-deli’s beskikbaar is. Bord van Woolworths.

Kom sit aan

Kom sit aan.

Versier jou tafel spesiaal vir die Paasmaal. Hang veelkleurige koekies aan ’n droë tak. Maak uit dodder (plantmateriaal by blomwinkels te koop) klein nessies waarin jy die Paaseiers rangskik. Pak ook stapeltjies stokkies en plaas sjokolade-eiers daarin. Versier die eiers met jou mooiste linte. Om jou eie Paaseiers te maak laat die kinders jou help en blaas hoendereiers uit: Gebruik ’n eier-prikker en maak bo en onder ’n gaatjie. Wikkel een van die gaatjies groter met ’n dik naald. Gebruik ’n strooitjie en roer die eier stukkend. Blaas die eiers deur die kleiner gat by die groter gat uit, spoel skoon en laat droog word. Smelt sjokolade in ’n dubbelkoker en vul ’n spuitsak met ’n fyn punt. Maak die gaatjie aan die onderkant van die eier met wondergom toe en spuit vol sjokolade. Laat stol en dop ’n bietjie van die eier af. Rangskik dit in goudkleurige koekiehouers of eierkelkies by Clicks. Die grys porseleinhaas en houthaas is van Osiers. Die breekgoed is van Woolworths. Die materiaal, Villa Reale (kode 2690633), is van Hertex Fabrics. Ander items stilis se eie.

Dink Pase

Dink Pase.

Laat almal help soek na mooi stokke of stukkies hout in die veld of tuin. Maak hiervan eenvoudige kruise wat jy met dun draad vasdraai. Laat elkeen sy eie kruis versier, met lint, draad of blink papier. Hang dit op waar jy dit elke dag kan sien ter herinnering aan ’n spesiale Paasfees. Bankie van Osiers. Ander items stilis se eie.

Speel-speel

Speel-speel.

Steek langs die tuinpaadjie ’n paar Paaseiers weg wat lei na ’n voëlkou (of mandjie) oorlaai met eiers. Plak elkeen se naam op ’n Paaseier en hang dit met mooi lint onderaan die kou op. Druk die lint met ’n skoon koppiespeld in die eier vas. Dis groot pret om jou naam te soek en jou Paaseier te pluk. Die Tintown-kou is beskikbaar by Heartworks.