aug06selfmaak1d
Maak dit self

Spatsels mooi

DROOM VAN ROSE (foto regs)
Tooi jou bed met linne en handgemaakte blomme.
Jy benodig
4 m x 190 cm Biggie Best-linne; 1 m ongebleikte linne; 9 m sierband van jou keuse – dis genoeg om 3 kante om te stik.
Maak só
Dié linne pas gemaklik oor ’n enkel- en driekwartbed, maar jy sal ’n ekstra lengte moet koop wat jy in die lengte deurknip en aan albei die lang kante van die deken las. Stik ’n soom reg rondom die linne. Stik die sierband op die rand vas. Skeur repe van 8 cm breed uit die ongebleikte linne. Draai hieruit die rose. Die rose: Bondel die een punt liggies tussen jou vingers en hou dit vas. Begin die oorblywende stuk lossies om die kroon draai totdat die blom groot genoeg na jou sin is. Knip die strook af, vou die punt na onder en steek die onderkant met ’n paar spelde vas. Werk die blomblare stewig deur al die lae materiaal met onsigbare steke vas. Werk dit goed vas op die deken. Skeur smaller repe vir die blomstele en werk dit net ’n entjie met drie drade borduurgare en groterige rygsteke vas sodat die punt onder nog los hang. Knip ’n paar blare en rafel die rand effens. Werk ook met rygsteke vas. Was versigtig met die hand.

BEKOOR MET ORANJE

Kussings is ’n maklike, vinnige en goedkoop manier om nuwe lewe en kleur aan ’n vertrek te gee.
Jy benodig
50 cm Biggie Best Linen en French Stripe; rooi lint; rooi ricrac-sierband.
Maak só
Knip die kussing se voor- en agterkante tot ’n grootte wat jy wil hê. Ons het ’n langwerpige kussing gemaak met drie breë opnaaisels in die middel. Vou lint in min of meer ewe groot plat plooitjies en stik die plooie in die middel van die lint vas met ’n linnekleur gare. Stik die geplooide lint op die punte vas. Voltooi kussing. Stik ricrac-sierband van jou keuse op die gestreepte materiaal vas en voltooi die kussing.
Hartjie: Knip ’n hartvorm uit die oorskietlinne. Borduur met stringkatoen (2 drade) en satynsteek ’n eenvoudige blompatroon op die voorkant. Stik ricrac-sierband op die rand en ’n stukkie dubbelgevoude lint aan die bokant van die hartjie vas. Plaas hartjies met regte kante opmekaar en stik rondom toe. Laat ’n opening en stop met vulsel.

BAK VOL VERSIERINGS

Pompon- en tossel-sierbande van Hertex en ander fabriekswinkel-vondste word ’n mooi fokuspunt op jou werktafel.

SAGTER MET TOSSELS

Versag onderrant van ’n blinding met sierband en tosselfraiing.
Jy benodig
Stewige linne vir die grootte van die venster; some; sierband en tosselfraiing; dun tappenne (dowels); ’n plat plankie van 4 cm en ’n stewige plank waaraan die blinding moet hang; ’n strook velcro – alles volgens die breedte van venster; plastiekringe en ’n dun optrektou (geskik vir ’n Romeinse blinding en te koop by gordynwinkels).
Maak só
Volg dié maklike stappe om self ’n Romeinse blinding te maak. Die geheim lê in akkuraat meet en reguit stik. Trek ’n stewige plank (gesaag volgens die breedte van die venster) met ongebleikte linne oor. Kram een strook van die velcro hieraan vas en skroef bo aan die vensterraam vas. Skroef aan die onderkant van dié plank drie skroefogies vas, in die middel en aan die twee kante. Knip blinding: Bereken 3 cm vir elke tappengleuf en 30 cm tussenin vir elke vou, 2 cm vir boonste soom, en twee lang sye en 6 cm vir onderste plankie-gleuf. Stik só: Meet waar jy versiering wil hê en stik vas. Stik lang sye en boonste soom. Stik ander deel van velcro op boonste soom vas. Vou die onderste gleuf en stik. Stik die tosselfraiing op die voulyn. Meet en merk die gleuwe van tappenne eweredig uit, stryk voulyne en stik elk. Werk 3 plastiekringetjies vas op elke gleuf (in lyn met skroefogies op boonste plank). Steek die tappenne deur die gleufies en die plat plank deur die onderste gleuf. Knip 3 lengtes tou wat lank genoeg is. Begin by die onderste ringe en bind ’n toutjie aan elk. Ryg deur die ringetjies tot bo. Ryg nou almal saam deur die boonste skroefogies sodat dit aan die een kant afhang. Vleg die los lengtes saam en knip gelyk. Boor ’n vlinderskroef aan die vensterbank en draai tou hierom as die blinding opgetrek word.

ROK VIR JOU OTTOMAN

As jy al moeg is vir dié winskoop (ottoman) van die seisoen, maak ’n los oortreksel en kussing om die hele voorkoms te verander.
Jy benodig
Ottoman van sowat 42 x 42 cm; linne van 1,5 m x 140 cm linne en 0,5 m gestreepte linne; 2 m tosselfraiing.
Maak só
Drapeer die materiaal oor die ottoman sodat al die kante die vloer raak. Steek hoeke af. Stik en knip oortollige materiaal weg. Keer om, trek weer oor ottoman, vou some netjies in en speld tosselfraiing vas. Haal ootreksel af, stik fraiing en soom vas. Maak ’n vierkantige kussing vir bo-op. Knip een van die tossels af van oorskiet-fraiing en werk in die middel van die kussing vas.