Maak dit self

Spesiaal vir 11 Mei

Vry en eksoties (foto regs)
Kombineer helderkleurige blomme – helderpienk hanekamme, rooi en pers angeliere – en bind saam in ’n stywe bos. Rangskik in ’n sementpot van o.live. Kies ’n interessante vorm pot van Loft Living vir ’n enkele rits orgideë. Die plat bak en muurteëls is van Maroccan Warehouse.

Gasvry en sosiaal

Gasvry & sosiaal.
Oorlaai ’n mooi mengbak met haar gunsteling-blomme. Koop een of twee bosse lelies en vul vir die res aan met blomme uit jou tuin. Gebruik interessante kombinasies soos hanekamme, nerinas en rose. Week ’n stuk oase in water en plaas in die groot mengbak. Knip die stele kort af en druk die blomme dig in die oase. Maak ’n klein ruikertjie vir een van die maatkoppies en plaas ’n enkele dahlia in die koekstaander. Die mengbak, stel van drie maatkoppies en die koekstaander is van @home. Die agtergrondmateriaal is uit die reeks Ryan, kleur Malt van Hertex Fabrics. Antieke blompot stilis se eie.

Nostalgies en behoudend

Nostalgies & behoudend.

As jou ma lief is vir ’n tikkie nostalgie en romantiek, is dít die manier om Moedersdag saam deur te bring. Haal die familiealbums, ou kaartjies en memento’s uit. Lag lekker saam, en kies wat vir haar spesiaal is en maak ’n herinnering-skildery hiervan. Besluit op ’n mooi groot raam en trek die rugplank met materiaal (Ryan, kleur Malt, van Hertex Fabrics) oor. Plak vas met Pritt-gom. Rangskik kaartjies en foto’s na jou smaak hierop en plak ook vas. Die mat is van Gonsenhausers Fine Rugs. Die skoene is van Maroccan Warehouse. Die klein tafeltjie is van Home Affairs. Die stoel is oorgetrek met materiaal uit die Jay Smith Collection van Hertex. Die raam is verskaf deur Handmade Frames. Ander items stilis se eie.

Vroulik en sag

Vroulik & sag.

Draai ’n helderkleurige lint om ’n bos tjienkerientjees en steek vas met ’n speld. Knip die stamme gelyk en laat regop staan in ’n bietjie water in ’n groot glasvaas. Soek ’n interessante blaar, enkele tak of ’n paar sade om in ’n glassilinder te rangskik. ’n Slim plan is om dodder (by bloemistewinkels te koop) in ’n bondel te draai en onder in die pot te plaas – dit help om die stele in posisie te hou. Steek die takkies almal in een rigting in. Ons het ornamentele appelliefies gebruik. Hou hierdie saadjies tot dit droog is en plant dit ter herinnering aan ’n heerlike Moedersdag. Glaspotte en ander items stilis se eie.