Maak dit self

Swart & wit met kleur

KLOKHELDER (foto regs)
Glasklokke is nie net vir koek en kos nie. Kombineer dit met linte en swart of gekleurde glas en maak ’n mooi tafellandskap.

PLAKWERK


Silhoeëtvorms is terug. Plak met maskeerband ’n breë band teen jou muur. Verf dit in tulppienk en trek die maskeerband versigtig af terwyl die verf net winddroog is. Wag tot dit kurkdroog is voor jy weer maskeerband plak om die smal swart streep te verf. Plak van Frittle se prettige vinielrame op die pienk strook.

STILLEWE

Kombineer ’n groot spieël met ’n kunstenaarsdoek wat jy oortrek met Design Team se Renaissance Ladies.

BYDERHAND

’n Gebrek aan ’n bedkassie hoef jou nie slapelose nagte te besorg nie. Trek ’n smal plank oor met materiaal. Gebruik ’n kramgeweer om die materiaal aan die agterkant vas te kram. Monteer hierop ’n muurliggie, beskikbaar by die meeste groot ligtewinkels. Boor ’n gat deur die plank vir die elektriese koord (aanknip-liggies is ook beskikbaar). Skroef ’n rakkie aan die onderkant van die plank vas, so hoog soos jou bed en so breed soos ’n boek. Maak ’n tydskrifsak van ’n lang strook materiaal wat jy in 2 groot lusse vou en vasstik. Vou jou SARIE dubbel om die regte grootte te kry. Stik 2 lussies op die hoeke van die tydskrifsak vas en skroef twee mooi hakies ooreenstemmend op die plank vas. Hang die plank op aan ’n sterk lint wat jy baie stewig agter vaskram.

KOOKGEREED


Maak ’n houer vir jou kombuisgereedskap. Gebruik ’n mooi servet en Silk Art se Porcelain Podge. Knip die motief netjies uit, smeer ’n bietjie Porcelain Podge waar jy die motief wil plaas en plak versigtig vas. Verseël die motief daarmee, maak rondom skoon met ’n oorstokkie om oortollige Porcelain Podge te verwyder en bak in die oond volgens die vervaardiger se aanwysings. Skakel Silk Art vir klasse en meer inligting.

MUURLANGS


Los die probleem van te min pakplek só op. Sit rakke van muur tot muur op. Koop by jou hardewarewinkel rakplanke. Onthou, hoe swaarder die rakke gelaai word, hoe meer stutte benodig jy. Pak jou breekgoed hierop uit en hou kas-ruimte vir minder mooi goed.