Maak dit self

Taal van jou hart

Borduurkuns (foto regs)
Gebruik klein stukkies sy en katoen om tydlose laphardjies te maak. Knip ’n hartvorm uit die materiaal en borduur iets eenvoudigs daarop. Sit aan mekaar vas en laat ’n opening waardeur jy die hart omdop. Stop met vulsel en bind ’n mooi lint aan die bokant vas. Gebruik dit as ’n geursakkie en hang dit aan jou kamer- of kasdeur op vir fyn detail. Die grys onderbord is van Woolworths en die ander bord is van Mr Price Home.

Welkomsgroet

Welkomsgroet.

Maak jou eie skildery en hang dit op waar jy met jou hartsdinge besig is. Teken ’n eenvoudige hartvorm liggies met ’n potlood op ’n kunstenaarsdoek. Plak stroke growwe kant in die hartvorm. Doop ’n kwas met stywe hare in verf (ons het Heritage Students Acrylic gebruik) en stip die verf oor die stroke kant aan. Laat effens droog word en trek die stroke kant af. Verf met ’n dun kwas tussen die stroke. Laat droog word en verf die agtergrond. Laat weer droog word en skryf iets moois met ’n permanente pen rondom die hart. Die papiervoëltjie met rooi hart, die swart voëltjie en die doelgemaakte geskenkpapier is van elsje designs. Die wit porseleinhouer is van Lime Grove. Die pen met kalligrafie-punt, ink en papier is van Le Papier du Port. Ander items stilis se eie. Sierskrif deur Ria Pretorius.

Liefdesboodskap

Liefdesboodskap.

Beoefen weer die kuns om ’n lang brief te skryf en doen dit op mooi papier of ’n kaartjie wat jy self maak. Knip ’n groot hart uit, skryf jou brief daarop en vou dit op in ’n netjiese vierkant. Versier dit met linte en uitgesnyde harte, of vou die hart in die helfte (sien agter die koppie). Of vou jou brief in die lengte in derdes op en knip ’n langwerpige, abstrakte hart uit dieselfde kleur papier. Bind met rooi lint vas. Kyk by skryfbehoefte- en plakboekwinkels vir mooi linte en klein versierings om jou kaartjies mooi te maak. Suikerhart en kaartjies gemaak deur elsje designs. Koppie en pen stilis se eie.