Maak dit self

Tydsame styl

Tydsame styl
’n Huis op Montagu vertel van stadig lééf, ’n flair met kleur en die eienaars se skeppende styl.

A
VERSAMELBOKS

Benodigdhede
Stewige plat boks; karton; plakpapiergom; handgemaakte papier in ’n sandkleur; 1 vel helderkleurige handgemaakte papier; kunsmessie; gom.

Maak só
• Trek ligte potloodstrepe waar jy die boks wil verdeel.
• Meet op hierdie lyne en sny repe karton volgens dié mates, maar voeg 7 mm aan die onderkant en die punte by.
• Sny baie liggies op die 7 mm-lyne sodat jy net die boonste lagie van die karton breek.
• Vou op hierdie lyne om ’n “voetjie” te vorm.
• Smeer gom en plak vas op die regte plek.
• Laat droog word.
• Skeur die sandkleurige papier in kleinerige stukke en week in die aangemaakte plakpapiergom.
• Die papier moet deurdrenk, maar nie pap wees nie.
• Plak die boks heeltemal hiermee toe en laat droog word.
• Skeur die oorblywende vel papier effens kleiner as die verskillende afskortings en plaas dit daarin.

B
MAKLIKE KWILT

Benodigdhede
Geblomde materiaal volgens die grootte wat jy verkies (ons het Romantics Vincenzo van Home Fabrics gebruik). Dieselfde hoeveelheid wit katoen en watteersel. Daar is verskillende diktes watteersel – ons het ’n taamlike dun een gebruik. Teenstellende materiaal (bepaal hoeveelheid volgens die grootte van jou kwilt vir die randstroke).

Maak só
• Plaas die watteersel glad op jou werktafel en sit die geblomde materiaal bo-oor.
• Stryk glad met jou hand en speld vas.
• Plaas die twee lae op die wit katoen en speld ook glad vas.
• Ryg vanaf middel in sonstrale na die kante om alle kreukels en voue te verwyder.
• Meet die 4 rande en knip randstroke van 12 cm breed.
• Vou dubbel en pars plat. Stik die rourand van die stroke aan die kwilt en pars die naat na een rigting. Vou om na die regte kant en stik weer vas.

C
VOËLBAK

Benodigdhede
Vlak terracotta-bak (drip tray) – by kwekerye te koop; teëlsement; plat klippies; Bond it-waterdigtingvloeistof.

Maak só
• Beplan die patroon wat jy met die klippies wil pak, want die aangemaakte sementmengsel word taamlik vinnig droog.
• Maak die teëlsement met die waterdigtingsvloeistof aan volgens die aanwysings van die vervaardiger.
• Smeer ’n dik laag van die sementmengsel aan die binnekant van die bak en druk die klippies in die nat sement.
• Smeer buitekant van bak ook met sementmengsel vir ’n eenvormige kleur.
• Laat binnenshuis droog word en spuit dit vir die volgende 2 tot 3 dae met ’n spuitbottel nat.

D
GEBORDUURDE TAFELDOEK

Benodigdhede
Materiaal volgens die grootte van jou tafel (ons het Linnen Moss van Home Fabrics gekies); DMC-stringkatoen in kleurnommers 469, 304 en 349; verdwyn-inkpen; borduurnaald.

Maak só
• Stik ’n soom rondom die tafeldoek – as die selfkante netjies en stewig is, kan jy dit so hou.
• Trek ons krulpatroon na en vergroot dit tot ’n grootte van jou keuse.
• Ons het dit tot ’n hoogte van 15 cm vergroot.
• Plak die vergrote patroon teen ’n venster en plak materiaal bo-oor en trek die krulpatroon op die twee lang kante van die tafeldoek na.
• Borduur op die buitelyne in agtersteek.
• Verwyder die penmerke met water, laat droog word en pars liggies aan die verkeerde kant.