aug07selfmaak1a
Maak dit self

Uit die natuur

BEESVEL & BLARE (foto regs)
’n Luukse dagbed is nou hoogmode. Dié mooie dagbed is oorgetrek met Hertex Fabrics se Woodland. Gebruik ’n beesvel as mat op jou vloer, maar kies ’n kleur wat by jou meubels pas. Laat maak ’n reuse-fotostaat van ’n mooi botaniese skets. Laat die skets vergroot by ’n kopieerwinkel op AO-grootte papier (wat vir argiteksplanne gebruik word). Vir ’n informele voorkoms, plak dit met rooi isoleerband vas.

GOUD & STOKKIES

GOUD & STOKKIES.

Kranse is nie net vir Kersfees nie – stal dit heeljaar uit. Kombineer grof en blink vir ’n treffende fokuspunt. Rangskik die stokkieskrans teen ’n goudblad-skildery wat jy self maak. Verf ’n kunstenaarsdoek met rooi akrielverf, laat droog word en meet dit uit in blokke wat effens groter is as die goudbladvelle. Smeer elke alternatiewe blok met verguldingsgom en voltooi een ry op ’n slag. Laat die gom effens droog word – dit moet taaierig voel. Smeer jou vingers met babapoeier en lê die vel plat neer op die gom. Vryf glad met die beskermende vel wat tussen die lae goudblad is. Plak die volgende blok en laat ’n randjie rooi uitsteek. Gaan voort tot die hele doek verguld is.

PLANK & LINNE

PLANK & LINNE.

Maak ’n praktiese handvatsel vir jou snybord van ’n stukkie afval-leer. Vou die leer dubbeld en stik dit met rooi gare. Kap die handvatsel met klinknaels vas.

KLIPPE & DRYFHOUT

KLIPPE & DRYFHOUT.

Vir ’n interessante koffietafel, laat maak twee deursigtige perspeks-bokse van verskillende groottes by ’n perspeks-handelaar. Jy kan ook twee vistenks gebruik. Keer die groter een om oor die kleiner een. Vul die kleiner een met dryfhout of iets moois uit die natuur. Plak die kleiner boks in die groter een vas met kleurlose silikoongom.