feb07selfmaak1a
Maak dit self

Versier met papier

POT-POURRI (foto regs)
Draai afvalstukke muurpapier om glaspotte. Knip van die kleiner motiewe uit die plakpapier en, vir ’n driedimensionele voorkoms, plak dit ooreenstemmend op die pot vas met dik kleefband wat alkant gom het. Maak papier-mâché aan in ’n ou roomyshouer. Gebruik ’n kwart pakkie plakpapiergom, maak aan volgens instruksies, maar voeg nog 1 koppie koue water by. Week geskeurde stroke onbedrukte papier in die gom. Smeer Vaseline om interessante vorms te kry en draai toe in kleefplastiek. Plak minstens 5 lae mâché hieroor. Laat kurkdroog word en glip af van die vorm. As dit moeilik afkom, sny oop aan agterkant en wikkel vorm uit. Plak weer toe met papier-mâché.

PAPIERMOSAÏEK

Koop ’n kunstenaarsdoek. Sny ’n vierkant van sowat 4 cm X 4 cm uit karton om gekleurde vierkantige blokkies uit tydskrifte na te trek. Knip die blokkies uit en smeer gom aan die boonste deel van die agterkant van elke gekleurde blokkie sodat die onderste deel los hang. Plak dit in rye en skakerings op die doek.

PRÊT-À-PORTER?

Dalk nie gereed om gedra te word nie, maar ’n kunswerk van ’n ander aard . . . ’n Bruinpapierrok wat jy teen jou muur ophang.
Maak só
Knip die patroon sommer uit jou kop uit. Pons mooi papiervorms uit en plak dit vas. Versier verder na jou smaak. As jy nie naaldwerk kan doen nie, knip net ’n enkellaagrokvorm uit bruinpapier en versier.

GRAFFITI

Maak jou eie muurpapier deur mooi letters en eenvoudige lynsketse op A4-papier te fotostateer en dit met Bostik-spuitgom teen jou mure te plak.