Maak dit self

Vir klein ruimtes

Vir klein ruimtes
Om jou kompakte woning atmosfeer te gee, of as geskenke soos vir Moedersdag: Hier is ’n
paar selfdoen-idees.

A
AANSTEEKBORD

Benodighede
’n Ou prenteraam; Plascon Velvaglo in die volgende kleure: Scalloped Potato vir buiteraam, High Grass vir binneraam en goue stokperdjieverf vir dun binneraampie; ’n stuk linne-materiaal, effe groter as raam, asook dun watteer sel; ’n verskeidenheid oorgetrekte knope van jou geliefkoosde lappies; hardebord so groot soos binnemaat van raam; gomstiffie.

Maak só
•    Verf raam in 3 kleure.
•    Trek binneraam op linnestof na.
•    Plaas watteersel agter en ryg aanmekaar.
•    Werk knope eweredig gespasieer deur al die lae vas.
•    Plaas hardebord op watteersel, knip lg. weg en smeer gom aan rande van hardebord.
•    Vou linne om en plak vas.
•    Plaas binne-in raam en hou in posisie met knoplose spykers.

B
MOSAÏEKSPIEËLTJIE

Benodighede
’n Ronde spieël van sowat 20 cm in deursnee; mosaïekteëltjies in lig- en donkergroen, pers, blou, pienk, geel, oranje en rooi; mosaïektang; Flex-mosaïekgom; wit voegbry.

Maak só
•    Merk met ’n permanente viltpen ’n ronde raam rondom die spieël van sowat 4 tot 5 cm en doen mosaïekwerk binne die spasie.
•    Knip die gekleurde teëltjies eers in die helfte en dan weer in kleiner blaarvorms.
•    Knip uit kwart-stukkies teëls rooi, oranje en geel blomkrone.
•    Smeer ’n klein bietjie gom met ’n peusel stokkie aan elke stukkie teël en plak elke blommetjie, met blomkroontjie in die middel.
•    Knip blare en stingeltjies uit donkergroen en plak tussen blomme.
•    Knip liggroen teëls in kwarte en vul spasies tussenin om mosaïekraam te voltooi.
•    Laat vir 24 uur.
•    Maak voegbry aan volgens aanwysings op pakkie.
•    Laat staan ’n rukkie en smeer tussen teëltjies.
•    Laat vir sowat 20 minute en vee skoon met ’n klam spons.

C
HANDGEBORDUURDE LINNE

Benodighede
’n Gekoopte laken en kussingslope; DMC-stringkatoen in kleure wat by die slaapkamer pas; borduurnaald; verdwynpen.

Maak só
•    Teken ‘n eenvoudige blomrankie en merk die posisies.
•    Ons het die hele omvourand van die laken en die gestikte rand van elke kussingsloop borduur, maar ’n enkele blomtakkie sal net so mooi lyk.
•    Gebruik eenvoudige borduursteke soos ketting-, satyn-, stam- en agtersteek, asook bouillonrosies.
•    Borduur kettingsteke met 3 borduurdrade en die res met 2 drade.
•    Spuit nat om verdwynpen te verwyder.

D
TEETAFEL MET KOEKSTAANDER

Benodighede
’n Glasskyf van sowat 25 cm in deursnee en 3 mm dik; glasklonte, verkrygbaar by stokperdjie- of kralewinkels; ’n ou glasbakkie; helder silikoongom.

Maak só
•    Laat sny die glasskyf by glasverskaffers en laat hulle die skerp rand glad skuur met ’n skuurmasjien (nie nodig om die rand te politoer nie).
•    Neem silikoongom en plak glasklonte styf teen mekaar rondom die rand van die skyf, asook om die buiterand van die glasbakkie en die voetstuk.
•    Laat goed droog word.
•    Keer glasbakkie om en plak voetstuk aan onderkant en in middel van glasskyf vas. (Die koekstaander het ons slegs R28 gekos.)

E
GASTE-HANDDOEKIES

Benodighede
Wit-en-room wafeldoek van sowat 45 x 120 cm; siergalon en ’n bont strokie katoenstof.

Maak só
•    Stik some rondom elke handdoekie.
•    Stik siergalon op rand van een vas.
•    Stryk soompies in die katoenstrokie en stik sowat 3 cm vanaf die rand op ander handdoekie vas.

F
KLEIN FOTO-ALBUM

Benodighede
2 stukke karton, A5-grootte of soos verkies; dunnerige handgemaakte papier (ons het herwonne papier van Oasis-boekwinkel gebruik – werkverskaffers vir verstandelik gestremdes, 021 674 5570); enige tipe kleursel soos vir voedsel; persoonlike memento’s van die familie; tuisrekenaar met drukker.

Maak só
•    Kleur die papier na jou smaak (moenie te nat laat word nie).
•    Laat droog word.
•    Werk op jou tuisrekenaar en skandeer foto’s swart en wit in (m.a.w. jy kan kleurfoto’s na swart/wit verander).
•    Druk dit uit op handgemaakte papier en skeur ’n eweredige buiterandjie rondom elke prentjie.
•    Plak op ’n effe groter stukkie papier om ’n raampie te vorm.
•    Trek die 2 kartonne oor vir ’n voor- en agterblad.
•    Plak 2 of 3 velle aanmekaar tot ’n lang strook en vou ’n konsertina.
•    Sny tot regte breedte en plak aan kartonne.
•    Plak lint tussen voorblad en eerste konsertina.
•    Voltooi album met foto’s, gediggies en gesegdes.
Wenk: Scrapbooking is deesdae ’n gewilde manier om herinneringe te bewaar. Maak so ’n plakboek vir aandenkings of as geskenk soos hier beskryf, so groot of klein as wat jy verkies.