Maak dit self

Wat om te doen met groen

Kyk hoe jy self met stensil, ’n paar kwashale en mooi glasgoed kan toor.

A
GEVERFDE TAFELTJIE
As jy weer ’n meubelstuk wil verf, speel ’n bietjie met meer as een skakering verf. Dit gee ’n heel ander voorkoms aan jou meubelstuk.

Benodigdhede
Ongeverfde tafeltjie van The Hearth and Home Shop; Plascon Velvaglo in skakerings Avocado C20-7 en Melon Rind B19-3; smal en breë kwas; maskeerband; terpentyn.

Maak só
• Merk ’n vierkant uit op die blad van die tafel en plak maskeerband op die gemerkte lyne.
• Verf heel eerste hierdie vierkant. Laat droog word en trek maskeerband af.
• Plak ’n smal strepie sowat 3 mm vanaf die geverfde rand en verf dit met donkergroen. Laat droog word.
• Plak strepie toe en verf die oor blywende rand.
• Afhangende van jou tafel-ontwerp, verf verskillende vlakke van die tafel in donker en ligte groen.
• Plak weer met maskeerband as jy moeilike areas moet verf.
• Sorg dat die verf kurkdroog is voordat jy met ’n ander skakering werk.

B
SKILDERY
Waag jou hand aan skilderwerk – dis glad nie so moeilik soos jy dink nie. Die maatskappy Dala verpak ’n stelletjie akrielverwe wat dit goedkoop en lekker maak om mee te eksperimenteer.

Benodigdhede
’n Kleinerige kunstenaarsdoek (by kunsen groot skryfbehoeftewinkels); Dalaakrielverf; verfkwassies.

Maak só
• Begin met ’n eenvoudige ontwerp soos jou gunsteling-koffi ebeker.
• Teken dit liggies met ’n potlood op die doek.
• Gebruik ’n klein, stewige kwassie en verf met donkergroen eers die buitelyne.
• Verf daarna die res van die beker, maar hou die bek van die beker wit. Verf die agtergrond in ’n ligte groen met los kwashale. Verf die binneste deel van die beker met wit en omlyn dit met rooi of pienk viltpen.

C
MUUR MET PATRONE
Ons wys ’n maklike manier om patrone op ‘n muur aan te bring. Kies ’n aksentmuur, soos ’n voorportaal, om te versier.

Benodigdhede
Plascon Double Velvet (Sage C20-5 en Fennel Seed C20-3) vir die muur; stensilpatroon; asetaat; kunsmessie; wondergom; sponsie; verfroller.
Maak só
• Verf die muur met Sage-groen en laat kurkdroog word.
• Vergroot die stensilpatroon op ’n fotostaatmasjien tot ’n A3-grootte.
• Plaas die asetaat bo-oor die vergrote patroon en trek dit met ’n permanente viltpen na.
• Sny versigtig uit met die kunsmessie.
• Verwyder alle penmerke met ’n bietjie lakverdunner of naellakverwyderaar.
• Merk die middel van die muur en begin vanaf hierdie punt stensil.
• Hou die stensil in posisie met klein stukkies wondergom.
• Draai stensil om ’n volle patroon te maak.
• Was die stensil gereeld om slordige stensilwerk te voorkom.
• Werk in netjiese rye met gelyke afstande tussen die patrone.

D
GLASMATJIES
Glasmatjies is nuttig om selfs blompotte op neer te sit en so jou houtoppervlakke te beskerm.

Benodigdhede
Glasvierkante van sowat 10 x 10 cm en 3 mm dik; glasklonte (by stokperdjie- en kralewinkels te kry); kleurlose silikoongom; Dala-glasverf (opsioneel).

Maak só
• Laat sny die glasvierkante by ’n glasverskaffer en vra hulle om die skerp rande te skuur.
• Maak glas goed skoon en plak op elke hoek ’n glasklont met silikoongom vas.
• Laat oornag droog word.
• Indien verkies, verf glasmatjies met die glasverf in kleure van jou keuse.

E
BOTTELS WORD BLOMPOTTE EN DRINKGLASE
Herwin jou bottels deur ’n mooi blompot daarvan te laat maak.

Benodigdhede
Enige groen wynbottel vir die bompotte en Appletiser-bottel vir die glasie.

Maak só
Ons het die bottels geneem na The Carpenter’s Shop (tel. 021 461 8766), wat werk verskaf aan haweloses. Hulle sny dit met ’n spesiale toestel en skuur die skerp rande glad. Dit kos sowat R12 – R15 per bottel. Bel jou gemeenskapsentrum vir soortgelyke werkverskaffingsplekke in jou omgewing.

F
GEVERFDE MAT
Die mat word eers oor ’n houtraam gespan terwyl jy dit verf. Maak uit afvalplanke ’n raam
volgens die grootte wat jy verkies.

Benodigdhede
Seildoek effens groter as die mate van jou mat; Dala-gesso en -akrielverf in skakerings
van groen en wit; plat kwaste; kramgeweer.

Maak só
• Span die seildoek styf oor die raam en kram dit vas.
• Verf die gesso aan die regte kant, laat droog word en verf ’n laag aan die verkeerde kant.
• Verf ’n tweede laag aan die regte kant wanneer die gesso droog is.
• Die gesso dien as verseëllaag.
• Teken ’n ontwerp na jou smaak (of gebruik die foto as verwysing) op die doek.
• Dit mat lyk op sy beste as jy ’n interessante randpatroon verf.
• Gebruik die wit om ligter skakerings van groen te verkry.
• Laat die verfwerk kurkdroog word en verseël dit met Dala se Deco-vernis.
• Verf 2 of 3 lae van hierdie vernis oor die mat.
• Haal mat van raam af, vou ’n soom na die verkeerde kant en plak dit met matkleefband (by matwinkels te koop) of kontakgom vas.