FOTO Ryno

FOTO Ryno

Dekorstories

Meubileer só jou eenkamerwoonstel

Die meeste van ons begin ons studente- of professionele lewe in ’n eenkamerwoonstel. Met slim plasing van meubels kan jy die woonstel ruim en modern laat lyk.

1. Bed word bank

’n Enkel- of driekwartbed word jou rusbank én slaapplek. Gooi ’n mooi deken of stuk lap oor jou opgemaakte bed, plaas jou slaapkussings teen die muur en verberg dit met vrolike bont kussings. Die koffietafel is ook dubbeldoelig, want dis eintlik ’n bankie (van Pedersen + Lennard) wat as ekstra sitplek kan dien.

Wenk Koop of maak groot kussings (60 x 60 cm) en gebruik die beste gehalte vulkussings (soos dons of Unicurl-vesel). Dit behou sy vorm en sal baie jare hou.

eenman1

FOTO Ryno

 

2. Ekstra sitplek

’n Ottoman is ’n praktiese meubelstuk. Dit kan as ekstra sitplek, sytafel of selfs langs jou bed gebruik word. Dit is ’n bekostigbare manier om kleur en tekstuur in te bring. Ottoman (R459,99), Mr Price Home.

 

3. Kies kompakte meubels

’n Klein tafel kan altyd weer gebruik word as jy na ’n groter plek trek, en dit bly darem net lekker om by ’n tafel te sit en eet. Dit word ook ’n mini-studeerkamer. Die “stoele” is leë 25-liter-verfblikke. Koop kussings vir lekker sag sit. In die blikke is natuurlik heerlike stoorplek vir los goed.

Wenk Gebruik mooi houers waarin jy los goed bêre. Goed wat rondlê, laat ’n klein plek chaoties en beknop lyk.

eenman3

FOTO Ryno

 

4. ’n Boekrak wat afsper

’n Boekrak kan so geplaas word dat dit jou slaap- of eetruimte versteek of afsper. Jy kan die rak gebruik as bêreplek vir boeke, breekgoed en self netjies opgevoude klere. Boekrak (R2 499), @home livingspace5

eenman4

FOTO @home

 

5. Hou dinge ordelik en gebruik muurspasie

Maak ekstra hangplek deur jou eie kapstokke te maak van afvalplankies. Verf die plankies, skroef hakies of knoppies daarop vas en hang op.

Wenk As jy nie spykers in die mure mag slaan nie, hang dit agter jou deur op.

eenman5

FOTO Ryno

Lees nou

Pastelle is nie pieperig nie

Kies koper en sy pelle

Só lyk strooikussings die seisoen