Dieet

Dieetkundige Mariza blog: Hoekom jy nie vir jou kos-sonde kan nee sê nie

Met die bril op die punt van die neus en die liniaal reg om jou hand te raps, staan die ‘stem’ in jou kop reg om jou te berispe. Dis nou net vóór jy die sjokolade in jou mond sit. “Nee man!”

Met kwaai oë gluur die skaal (wat jy teen die tyd moes weggesmyt het), jou aan…

Maar jy kan nie nee sê nie! Jy voel op stuk miserabel, jy verknies jouself en eet sommer die hele plak op.

Dit help natuurlik as mens ‘maatjies’ het wat bieg … Ja, selfs Nigella het ook ‘n kos-sonde. Almal het mos een (hoop jy heimlik) – die hunkering na soet, suiker, vet, smake … die lékker!

Die tannie by die dieetklub kan haar vinger swaai soveel sy wil en raas soveel sy wil – sy gaan dit nie uit jou kry. Want dit is in jou kop. Nee – nie in jou kop soos in jou verbeelding nie – dit is in jou brein! (Ja – ‘n stuk daarvan is ook in jou lyf – maar dis anderdag se storie).

Ja, jy kán verslaaf wees aan suiker en soet én jou gunsteling koek…net soos ‘n ander verslaaf kan wees and rook of dwelms.

Chemiese stowwe in jou brein soos dopamien en serotonien speel ‘n groot rol in ons behoefte na suiker-soet, vet-lus, lekker-of selfs ooreet.

Dieselfde chemiese stowwe is betrokke by ‘verslawing’. Wanneer daar ‘te min’ van hierdie stowwe is, ‘soek’ die brein maniere om dit te verhoog – want dis mos nie sleg om lekker te voel nie – en rig jou voete na die koektafel… Die gevolg: Voel jy bietjie af? Jou breinchemie is bietjie laag? Jy kan moontlik moeiliker nee dankie sê. Die brein soek die beste geleentheid om sy chemiese ‘store’ aan te vul.

Die brein het egter meer nodig as net die suiker om hierdie ‘goeie gevoel’ te handhaaf. Spesifieke voedingstowwe. Baie verskillendes. Ongelukkig is baie van wat nodig is vandag maar dun gesaai in ons dieet.

Sonder hierdie voedingstowwe is jou brein soos ‘n sif. Jy sal bly bo ingooi – suiker, lekker kos/koek/pastei – en jy sal maar heeltyd leeg bly…

Voorsien jy egter die voedingstowwe wat hy nodig het SAAM met die soet – kan hy (of sy – hoe jy ookal oor jou brein voel) die ‘goedvoel’ funksie beter verrig…en jou minder kere terugstuur koektafel toe.

Jy kan jouself help as jy kan leer dat, as jou brein skree vir koek – hy moontlik ook soek na kos – vis, vleis, kaas, vrugte, groente en neute!

[box:full:red:both]

Hier’s hoe dit werk:

[/box]

  1. Omega 3-olie vanaf voedselbronne voorsien ‘n unieke kombinasie van vette wat bewese is om breinoordragchemie soos dopamien en serotonien te moduleer. Suiker-verslaafdes het dikwels lae DOPAMIEN en daarom voel hulle soveel beter ná sjokolade. Dit verhoog die dopamien-vlakke in die brein. Gereelde genoegsame inname van OMEGA 3 – ook veral vanaf okkerneute, gekombineer met die regte soorte vette in jou dieet, kan dus hierdie wanbalans help herstel en dit vir jou makliker maak om 2 blokkies – nie 2 ‘slabs’ op ‘n slag te eet nie.
  2. Quercetin is ‘n phyto-nutriënt wat in baie vrugte en groente voorkom. Saam met Omega 3 speel dit ‘n belangrike rol in mens se neurochemiese gesondheid deurdat dit die selletjies wat die dopamien moet vervaardig beskerm teen skade. Voedsel wat heelwat Quercetin bevat sluit o.a. in appels, brokkolie, tamatie en druiwe.
  3. Sink is ‘n “taxi” in die brein wat belangrik is om hierdie neuro-of brein-oordragstowwe te dra. ‘n Sink-tekort is algemeen – veral by mense wat baie verfynde en verwerkte kosse eet maar ook dié wat voedselgroepe uitskakel wat tradisioneel voorgehou word as ‘minder gesond’ soos rooivleis – veral beesvleis, skaapvleis, kaas, neute en pampoenpitte en sade en OESTERS. Sink-vlakke is ook, ironies genoeg, laag in mense wat insulien-weerstandig is of pre-diabeties is.

Dit blyk dus dat dít wat missing is in jou lyf as jy lus bly vir soet ‘n goeie 3-gang maaltyd met Broccoli-sop kan wees; of salm as voorgereg; tamatie-bredie gekomplimenteer met ‘n goeie glas rooiwyn as hoofgereg; en ‘n gebakte appel nagereg.

Soek jy nog redes om liewer beter te eet? Klik en kyk elke dag by FACEBOOK/bettereat en www.betereet.co.za

Mariza van Zyl RD(SA)

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet™ Voeding en Voedsel Konsult

[box:full:red:both]

GROOT NUUS!


Ons daag jou uit om saam met sarie.com en Bettereat ‘n spesiale 6-week-leefstylplan te volg. Dié plan is spesiaal deur ons dieetkundige, Mariza van Zyl, ontwerp en gaan sorg dat jy beslis een nommer kleiner is! Pas dan jou nuwe lyf in pragtige ontwerpersklere uit ons winkel as jy klere ter waarde van R2500 kan WEN!

Klik hier vir al die inligting

[/box]